Hulle kan haka, ons kan skrum! Kom skrum saam met die Bokke

Skrum-plakkate.
Kry jou eie Skrum-plakkaat in ons nuutste uitgawe

Die All Blacks het hul haka. Suid-Afrika het iets anders: ’n skrum wat bewe. Nou is dit tyd vir elke Bok-ondersteuner om sy stem te laat hoor.

Wanneer die Springbokke teen Nieu-Seeland uitdraf, gaan dit nie net oor 80 minute se rugby nie. Dit gaan oor ’n eeue-oue wedywering, oor groen en goud, oor trots, en dié keer wil ons hê die hele land moet saam skrum.

Skrum-plakkate.
Skrum-plakkaat

Daarom het Die Papier die “Skrum, skrum, skrum”-veldtog van stapel gestuur. Die idee is eenvoudig: As die All Blacks hul beroemde haka het, hoekom kan Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners nie hul eie, unieke skrum-kreet hê nie?

Die inspirasie kom van die Springbokke se skrumdokter, Daan Human, wat ondersteuners aangemoedig het om hul eie weergawe van ’n skrum-kreet te skep en só die Bokke van die kantlyn af te ondersteun.

Want wanneer die Bokke sak, wil ons hê die hele land moet saam sak. Wanneer die eerste ry vasvat, wil ons hê miljoene Suid-Afrikaners moet hul stemme laat hoor.

Skrum! Skrum! Skrum!

Skrum-plakkate.
Skrum-plakkaat

Nou is jou beurt

Ons daag alle Bok-ondersteuners uit: Skree ons skrum-kreet. Skree dit hard.

Jy kan deelneem deur:

  • ’n Skrum-plakkaat te druk – kry jou spesiale Die Papier-“Skrum, skrum, skrum”-plakkaat in die gedrukte koerant of druk dit self uit.
  • Dit saam te vat wedstryd toe – gee dit vir ’n mede-rugbyondersteuner of hou dit hoog wanneer die Bokke die veld betree.
  • Jou eie skrum-kreet op video vas te lê – kry jou familie, vriende, rugbyklub, skool of werkspan bymekaar en wys ons hoe julle skrum.
  • Dit op sosiale media te deel en vir ander Suid-Afrikaners te wys hoe dit gedoen word.

Tag jou vriende, deel die veldtog en laat die kreet versprei, van die sitkamer tot die stadion, van die plaas tot die stad.

’n Skrum is meer as net agt manne

’n Goeie skrum gaan oor krag, eenheid en vertroue. Almal druk in dieselfde rigting. Dit is presies wat ons met dié veldtog wil regkry.

Skrum-plakkate.
Kry jou eie Skrum-plakkaat in ons nuutste uitgawe

Ons wil hê Suid-Afrikaners moet vir ’n oomblik hul stemme saamsnoer en die Bokke herinner dat hulle nie alleen op die veld staan nie. Die hele land staan agter hulle.

So, wanneer die All Blacks hul haka doen, moenie net kyk nie. Staan op. Maak jou plakkaat reg. Kry jou mense bymekaar. En skrum!


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos