Curriebeker-eindstryd: Harde duikslae en goeie aanvallende spel laat Pumas net-net voorloop met halftyd

Zane Bester, senter van die Griekwas.
Zane Bester, senter van die Griekwas. Foto: Dirk Kotze, Gallo Images

Die laaste drie jaar is die Curriebeker-eindstryd in Vrystaat en Johannesburg gespeel. Dit was dus duidelik dat die toeskouers by hierdie jaar se eindstryd in Kimberley uitgehonger was om hul span te sien wedywer vir die beker ná hulle verlede jaar in Ellispark die Leeus geklop het om met die louere weg te stap.

Dit was sommer vinnig duidelik dat tuisveldvoordeel ’n spreekwoordelike sestiende speler vir die Griekwas sou wees. Met die eerste omkeerbesit wat by ’n lynstaan plaasgevind het, kon ’n mens die skare by die Suzuki-stadion soos een man hoor skree.

Hoewel die Griekwas die eerste paar minute van die wedstryd oorheers het, kon hulle net nie ’n drie aanteken om hul goeie aanvalle spel te versinnebeeld nie. Ná 10 minute moes hulle slegs met ’n strafskop van George Whitehead gelukkig wees.

Hul voorsprong is egter in die 13de minuut uitgevee toe Jaycee Nel die bal onderskep het om Pumas-vleuel Darren Adonis oor die doellyn te stuur. Ná 15 minute se speeltyd was dit 7-3 in die Pumas se guns.

Griekwas se senter Mnombo Zwelendaba bars egter deur die verdediging in 20ste minuut om sy span 10-7 voor te laat loop, ná Whitehead die drie verdoel het.

Teen die 25ste minuut het ’n strafskop die spanne 10-10 gelykop op die telbord gehad.

Slegs een strafskop van Pumas-losskakel Clinton Swart het nog drie punte by die telling gevoeg om die Pumas met 13-10 te laat voorloop met halftyd. Maar beide spanne het die bal oor die doellyn verloor in die laaste 10 minute om geleenthede vir ’n drie te vermors.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos