Op 20 November 2025, tydens die G20-beraad, het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat die regering geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord tot ʼn nasionale ramp verklaar.
Sy aankondiging het gevolg ná jare se pleidooie deur slagoffers, hul families, aktiviste en ander rolspelers.
Ramaphosa se aankondiging is wyd verwelkom.
Dis gevolg deur die gewone hoeveelheid beloftes deur politici waarin hernieude toewyding aan kwessies soos voorkoming, slagoffer-ondersteuning, aanspreeklikheid en beter koördinering belowe is.
Maar wat – indien enige iets – het intussen verander vir die vroue van Suid-Afrika?
Dié vraag word opnuut gevra nadat nege vroue se liggame op die Oos-Rand gevind is.
Ses vroue per dag vermoor
Die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van 2026/2027 in Pretoria is op 28 Augustus bekendgemaak. Die waarnemende nasionale kommissaris van polisie, lt-genl Puleng Dimpane, het toe gesê hoewel sommige misdaadstatistieke daal, is daar ook dele waar die kriminele bedreiging “hardnekkig en onaanvaarbaar bly.”
In die 90 dae tussen April en Junie vanjaar het die moordsyfer met 5,9% gedaal tot 5 427. Volgens Dimpane was dit “5 427 te veel”.
“Elke dood verteenwoordig ’n verlore lewe en ’n verwoeste gesin.”
Maar al het die moordsyfer gedaal, kan vroue (en kinders) steeds nie ontspan nie.
Altesaam 569 vroue het in hierdie tydperk gesterf – sowat 6 vroue per dag – terwyl 1 052 vroue ʼn aanslag op hul lewens oorleef het. Van die 9 201 verkragtingsake wat in dieselfde tydperk aangemeld is, was 8 814 van die slagoffers vroue en kinders.
Waar is die aksie?
Om geslagsgeweld as nasionale ramp te klassifiseer, kan volgens aktiviste soos Lisa Vetten moontlik daarop dui dat die regering die erns van die krisis besef. Maar, sê Vetten – wat al dekades lank navorsing doen oor geslagsgeweld – erkenning is nie dieselfde as ingryping en effektiewe optrede daarteen nie.
Om dit soos ʼn eenmalige ramp te hanteer, is ook nie ʼn oplossing nie. Vetten
wys daarop dat geweld teen vroue en kinders ʼn chroniese verskynsel in Suid-Afrika is, wat gekoppel kan word aan “sosiale, ekonomiese en institusionele faktore”.
Dit, sê sy, verg “volgehoue ingryping” deur verskeie staatsinstellings.
“Vroue word nie deur ʼn verklaring beskerm nie,” sê Lynette Oxley, stigter en uitvoerende hoof van Girls on Fire. Dié organisasie wil vroue emosioneel, geestelik en fisiek bemagtig om hulself te kan beskerm.
Vroue, sê Oxley, sal eers veiliger voel wanneer hulle sigbare optrede sien. “Soos effektiewe polisiëring, vinniger ondersoeke en vervolging, en behoorlike ondersteuning vir slagoffers. Ons kort ook voorkomingsprogramme en werklike aanspreeklikheid,” sê Oxley.
Tania Koen, ʼn prokureur van Gqeberha wat slagoffers van geweld tydens paroolverhore verteenwoordig, is ewe bekend vir haar aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld.
Ook sy sê dat sy nie weet van enige daadwerklike ingryping deur die regering sedert die rampverklaring nie.
Koen sê sy weet van twee skuilings vir slagoffers van seksuele geweld in Gqeberha wat reeds gesluit het, of in die proses is om te sluit.
“ʼn Mens hoef ook net te kyk na die agterstand wat DNS-uitslae betref. As daar ’n daadwerklike poging was om geslagsgeweld ’n behoorlike knou toe te dien, sal dit die maklikste wees om daar ’n begin te maak,” sê Koen.
“Die agterstand in uitslae is tans iets soos twee jaar, terwyl party mense tot agt jaar wag vir DNS-uitslae.”
Celeste Louw is die bedryfshoof van die TEARS-stigting wat slagoffers van seksuele misdaad bystaan. “ʼn Rampverklaring beteken bitter min as vroue se realiteit daarna dieselfde bly. Woorde kan nie ʼn vrou beskerm nie.”
Louw sê “sigbare uitvoering” en “werklike aanspreeklikheid” is nodig.
“Mense wat voldoende opgelei is om met slagoffers te werk, toeganklike dienste wat behoorlik funksioneer, behoorlike ondersoeke deur die polisie, én behoorlike vervolging van oortreders is noodsaaklik.”
“Voorkoming móét verder strek as bewusmakingsveldtogte.”
Louw sê hulle sien daagliks die “mense agter die statistiek.”
“Dis vroue wat bang is, wat nie weet waarheen om te gaan nie. Ons kan nie net aanhou om oor die erns van geweld teen vroue te praat nie. Dis tyd om die erns om daarteen op te tree, te bewys.”
TEARS Foundation se dienste is 24/7 beskikbaar. Skakel hulle tolvry by 08000 83 277 of gebruik *134*7355# vir hulp.
Kyk die volledige onderhoud tussen Ilze Salzwedel en Tania Koen hier:
