Warm en droog op pad: El Niño reeds hier

Wetenskaplikes het voorspel dat ’n ‘super’ El Niño waarskynlik tussen Mei en Julie 2026 sal ontwikkel.
Wetenskaplikes het voorspel dat ’n ‘super’ El Niño waarskynlik tussen Mei en Julie 2026 sal ontwikkel. Foto: Lise Beyers.

Die verwagte El Niño-weerverskynsel het reeds begin, maar die presiese uitwerking daarvan op Suid-Afrika is steeds moeilik om te voorspel.

Só het prof. Willem Landman, ’n kenner van seisoenale klimaatvoorspelling verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), Vrydag tydens ’n mediakonferensie van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) oor El Niño gesê.

“Ons verwag nie El Niño nie. Ons is reeds in El Niño,” het Landman gesê.

Volgens hom was El Niño teen middel Augustus reeds stewig gevestig.

El Niño is ’n natuurlike weerverskynsel wat verband hou met die verwarming van seewater in die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan en wat weerpatrone wêreldwyd beïnvloed. In Suid-Afrika word El Niño gewoonlik met warmer temperature en droër toestande verbind.

Volgens Landman is die huidige El Niño egter ongewoon omdat die seetemperature buitengewoon hoog is, selfs vir ’n El Niño-verskynsel, en omdat dit dié keer vroeër as gewoonlik voorspel kon word.

Dr. Christine Engelbrecht van die SAWD sê namate die somermaande nader kom, neem die waarskynlikheid van ondergemiddelde reënval en warmer temperature toe.

Volgens haar word ’n baie sterk El Niño voorspel.

Die reëntoestande wat tans weens ’n afsnylaagdrukstelsel in groot dele van die land voorkom, is volgens haar ook nie ongewoon tydens ’n El Niño-lente nie.

Pumeza Tyali van die Nasionale Rampbestuursentrum sê El Niño kan watersekerheid, landbou en voedselsekerheid beïnvloed en tot uiterste hitte en veldbrande bydra.

Die nasionale, provinsiale en plaaslike regering, asook rolspelers in die private sektor, is volgens haar besig om gebeurlikheidsplanne op te stel.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos