Aardklop: SA se bestes saam op een fees

Die absurde tragikomedie ‘CRYBABY’.
Die absurde tragikomedie ‘CRYBABY’. Foto: Verskaf.

’n Kunstefees sonder bekendes is soos ’n braai sonder braaibroodjies. Daarom bring Momentum Aardklop weer ’n keur van SA se beste verhoogkunstenaars bymekaar, soos Sandra Prinsloo, Amanda Strydom, Antoinette Kellerman, Marion Holm, Nataniël en Frank Opperman, om maar net ’n paar te noem.

Kellerman neem jou op ’n kragtoer in Liefde, Lafras, as die karakter Gertie wat sukkel om haar lewe met haar man se spooklewe te versoen ná sy dood.

Op sy beurt is die geliefde Frank Opperman sommer in twee produksies by Momentum Aardklop te sien. Die eerste is CRYBABY, ’n absurde tragikomedie wat handel oor die tol wat dit eis om te lewe in ’n geldgierige wêreld waar alles in duie stort. Nicole Holm is ook in die produksie te sien.

Dan span Opperman ook kragte saam met Margit Meyer-Rödenbeck in Eerste vir alles, ’n komedie waarin Adam en Eva oor die huwelik besin, eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is. In die grootse produksie HÄNDEL & DIE DONKIE bekyk almal se mees geliefde kaalkop, Nataniël, weer die waarde en wonde van indrukke – die dinge wat elkeen van ons lewenslank bybly en vorm.

Gepraat van indrukke, die musieklegende en woordsmid Coenie de Villiers kom vier sy 70ste verjaardag by die fees met die musiekproduksie Coenie @ 70.

In dié debuutproduksie fokus De Villiers op sy werk van die afgelope halfeeu, waaronder sy albums, verhoogproduksies, operas en musiekblyspele.

Ouer, maar nog lank nie koud nie, net ’n bietjie meer persoonlik en spesiaal met liedere wat tot hom spreek – dís die man en sy klavier, die weergalose Coenie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos