Akademia nie die grondwetlike probleem wat Naledi Pandor dink nie

Dr. Naledi Pandor.
Dr. Naledi Pandor. Foto: Gallo Images/Rapport/Edrea du Toit.

Naledi Pandor, ANC-veteraan en voormalige minister van hoëronderwys, het tydens ’n onlangse onderhoud, vir die African Renaissance Podcast, die bou van Akademia se nuwe kampus in Pretoria as “unacceptable” bestempel. Sy is van mening dat Suid-Afrikaners is “far too complacent with our freedom” en waarsku dat die land nog nie klaar afgereken het met eeue van rassisme en kolonialisme nie. Voorts gee sy te kenne  dat die publieke stilswye, met betrekking tot die bou van die nuwe kampus, organisasies soos AfriForum kredietwaardigheid gee.

Dit is ’n ernstige aanklag deur ’n openbare figuur. Pandor het onder andere voorheen die minister van hoëronderwysportefeulje beklee, is tans voorsitter van die Nelson Mandelastigting en dien ook as kanselier van die Nelson Mandela Universiteit. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) ondersteun egter nie haar standpunt nie. Die reg om in die taal van jou keuse onderrig te ontvang, ook deur middel van enkelmediuminstellings wat op eie koste tot stand gebring word, is nie ’n skuiwergat in Suid-Afrika se demokrasie nie. Die Grondwet dien juis doelbewus as beskerming teen presies die soort ongemak wat Pandor namens ’n sogenaamde meerderheid uitspreek.

R3,2 miljard-kampus in Pretoria

Kom ons begin met die feite van die Akademiaprojek self. Dit is ’n private hoëronderwysinstelling sonder winsoogmerk, wat deur ’n vennootskap tussen Solidariteit en die eiendomsmaatskappy Kanton opgerig word. Die R3,2 miljard-kampus in Pretoria – plus ’n tweede terrein wat tans in die Paarl ontwikkel word – ontvang geen staatsbefondsing of subsidie nie. Dit word gefinansier deur ondernemingskapitaalbeleggers, bankfinansiering en die klas- en koshuisgelde van studente wat self/vrywilliglik kies om daar te studeer. Niemand word verplig om daar te studeer nie en geen openbare fondse van enige ander instelling word weggeneem of weerhou om die nuwe kampus te ontwikkel nie.

Wat sê ons Grondwet? Volgens Artikel 29(3) van die Grondwet het “elkeen” die reg “om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou wat (a) nie op grond van ras diskrimineer nie; (b) by die staat geregistreer is; en (c) standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.” Akademia voldoen aan al drie voorwaardes. Dit is geregistreer as ’n private hoëronderwysinstelling, sluit nie studente op grond van ras uit nie en pas dieselfde akkreditasiestandaarde toe as enige ander instelling wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding erken word. Artikel 29(3) maak geen uitsondering vir die taal van onderrig nie, en Afrikaans, wat steeds deur miljoene Suid-Afrikaners oor elke rassegroep heen gepraat word, is een van die land se twaalf amptelike tale ingevolge artikel 6 – en, volgens Statistiek Suid-Afrika se sensus van 2022, die derde grootste huistaal wat deur 10,6% van die bevolking in die land gepraat word (isiXhosa met 16,3% sprekers en isiZulu met 24,4% sprekers).

Dr. Linette van der Merwe.
Dr. Linette van der Merwe. Foto: Verskaf.

Opstellers van die Grondwet

Selfs gemeet aan artikel 29(2), wat spesifiek op openbare instellings van toepassing is, was die opstellers van die Grondwet uitdruklik daaroor dat enkelmediumonderwys ’n regmatige keuse is en nie ’n historiese reliek waarvan weggeskram moet word nie. Daardie subartikel bepaal juis: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is,” en vereis dat die staat “alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings” moet oorweeg, met inagneming van billikheid, doenlikheid en die behoefte om die gevolge van rasgebaseerde wette en praktyke van die verlede reg te stel. Die opstellers het presies geweet wat hulle doen toe hulle “enkelmediuminstellings” in die teks van ’n post-apartheid grondwet ingeskryf het. Hulle het voorsien dat taalgebaseerde instellings deel van die Suid-Afrikaanse lewe sou bly, en hulle het vrywaringsmaatreëls ingebou – nie-diskriminasie, billikheid, uitvoerbaarheid – eerder as ’n verbod.

Pandor het gelyk dat Suid-Afrika nog nie klaar afgereken het met die nalatenskap van kolonialisme en apartheid nie, insluitend die geskiendenis van Afrikaans as ’n instrument van uitsluiting onder Bantoe-onderwys. Daardie geskiedenis is werklik en verdien om eerlik vertel te word. Dit is egter’ʼn totaal ander saak om te beweer, soos Pandor skynbaar doen, dat ’n privaat gefinansierde, nie-diskriminerende, Afrikaansmedium universiteit op sigself ’n voortsetting van daardie onreg is bloot op grond van die onderrigtaal. Artikel 9 van die Grondwet verbied onbillike diskriminasie op grond van taal net so streng as wat dit diskriminasie op grond van ras verbied. Taal word immers gelys as ’n diskriminasiegrond in artikel 9(3). Om ’n enkeltaalmediuminstelling verdag te ag, bloot weens die taal verteenwoordig glad nie die regmatige toepassing van die Grondwet nie.

Die Akademia-inisatiewe behoort as ʼn empiriese bewys en konsepvoorbeeld vir elke Suid-Afrikaanse taal voorgehou te word, nie net Afrikaans nie. Dit bewys, in die praktyk, dat ’n private, niediskriminerende, ten volle geakkrediteerde universiteit gebou en in stand gehou kan word deur gemeenskapsbelegging en studentegelde, sonder ’n enkele sent van staatsbefondsing, geheel en al in ’n amptelike taal wat nie Engels insluit nie. Die presedent wat hierdeur geskep word, behoort te dien as inspirasie en konkrete bewyse dat ’n enkelmedium tersiêre instelling moontlik is. As Solidariteit en Kanton meer as R3 miljard in ekwiteit, bankfinansiering en beleggingsinkomste kan genereer om ’n moedertaalkampus vir Afrikaanssprekende studente te bou, bestaan daar geen beginselrede waarom dieselfde model (private kapitaal, ondersteuning deur die gemeenskap, registrasie kragtens die Wet op Hoër Onderwys) nie gebruik kan word om vergelykbare isiZulu-, isiXhosa-, Sesotho- of Sepedi-mediumonderriginstellings sou kon ontwikkel nie.

Verkeerde aannames

Hoe meer sulke instellings bestaan, in meer tale, hoe makliker word dit om twee verwante aannames, wat sedert 1994 stilweg die Suid-Afrikaanse hoëronderwys gevorm het, te gronde te rig, naamlik, dat Engels die enigste geloofwaardige taal van wetenskap en professionele lewe is en dat Afrika-tale, Afrikaans ingesluit, op een of ander manier minderwaardig is wat hoër kognitiewe funksies betref. Hierdie aannames  vertel miljoene studente dat hulle, om akademies ernstig opgeneem te word, in ’n tweede of derde taal moet dink, redeneer en spesialiseer eerder as in die een waarin hulle die vlotste redeneer, en hulle laat Suid-Afrika se inheemse tale onderontwikkeld as tale van onder andere die regte, mediese navorsing, ingenieurswese en natuurwetenskappe – nie omdat hulle nie tot die hoër kognitiewe funksies in staat is nie, maar omdat min of geen instellings ooit oor die hulpbronne beskik het om die funksies te ontwikkel. Elke moedertaalinstelling, soos Akademia, in enige amptelike taal, sal ’n wesenlike bydrae lewer tot daardie taal se wetenskapsterminologie, handboeke, geakkrediteerde vaktydskrifbydraes en institusionele selfvertroue om ’n taal se hoër kognitiewe funksies te ontwikkel en bevorder. Akademia se werklike waarde vir Suid-Afrika het miskien minder met Afrikaans spesifiek te doen en meer daarmee om, konkreet te dien as bewys dat dit haalbaar is – en die moeite werd is om vir elke amptelike taal ewekansige geleenthede te bied en nie net een (Engels) nie.

Akademia nie bo kritiek verhewe

Niks hiervan beteken dat Akademia bo kritiek verhewe is, of dat debat daaroor ongewens is nie – Pandor het gelyk dat Suid-Afrikaners meer openlik met hierdie vrae moet omgaan eerder as om die veld aan enige een belangegroep oor te laat. Tog moet daardie debat binne die Grondwet se taalregte plaasvind, nie daarteen nie. Die reg van ’n gemeenskap om sy lede, op eie koste, in die taal van sy keuse op te voed, mits dit nie diskrimineer nie en aan nasionale standaarde voldoen, was nie ’n vergissing in 1996 nie. Dit was die kompromie waartoe die onderhandelings van die Grondwet van Suid-Afrika gekom het, juis sodat geen toekomstige individu(e), party of regering ooit ’n wetlik gekonstitueerde, niediskriminerende instelling “onaanvaarbaar” kan verklaar bloot weens die onderrigtaal wat in die lesingsale gepraat word nie.

  • Dr. Linette van der Merwe is verbonde aan die Universiteit van Pretoria by die Departement Geesteswetenskaplike Opvoedkunde waar sy onder meer Afrikaansmetodologie doseer en die koördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat is.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos