All Blacks-afrigter, Dave Rennie, het sy mening gelug oor die vooruitsig om oor vier toetse teen die Springbokke te speel en gesê dit sal ’n veel groter uitdaging wees as ’n Rugbywêreldbeker.
Die spanning bou vinnig op namate albei kampe die laaste week voor die eerste toets Saterdag op Ellispark binnegaan.
“Dit gaan baie moeiliker wees as ’n Wêreldbeker,” het Rennie onlangs aan verslaggewers gesê.
Rennie, wat vroeër vanjaar as All Blacks-afrigter aangestel is, meen sy span sal teen die einde van die reeks presies weet waar hulle staan, met die Rugbywêreldbeker in Australië net meer as ’n jaar weg.
“Dit is fantasties, nie waar nie? Teen die tyd dat die reeks klaar is, sal albei spanne sowat ’n jaar van ’n Wêreldbeker af wees, so ons gaan beslis baie hier leer,” het Rennie gesê.
LEES: Rassie en kie kap terug oor All Blacks se bewerings dat Bokke spel vertraag
Rennie glo die Springbokke sal tydens die reeks by hul beproefde metodes hou en dat die skrum ’n groot rol in al die wedstryde sal speel.
Hy het egter vertroue uitgespreek dat sy span die uitdaging sal aanvaar.
“Jy speel volgens jou sterkpunte. Hulle sien die skrum as ’n sterkpunt. Ek dink ons skrum sal sy man kan staan,” het Rennie gesê.
“Wat hulle baie goed doen, is om geweldige druk toe te pas.
“Opeenvolgende strafskoppe plaas jou in ’n moeilike posisie.
“Hulle is die beste span in die wêreld wanneer dit kom by druk wat in punte omgeskakel moet word. Hulle voer baie van die belangrike statistieke aan in vergelyking met ander spanne wêreldwyd.”
Rennie meen dissipline gaan egter noodsaaklik wees, anders sal sy span swaarkry.
“Ons dissipline gaan baie belangrik wees, ons akkuraatheid gaan baie belangrik wees, en ons vaste fasette gaan ’n enorme rol speel,” het Rennie gesê.
“Ons kry die geleentheid om ons teen die beste span in die wêreld te meet, en die spelers sien regtig daarna uit.”
