Die tweede helfte het met ’n skrum begin, waar die Stormers onmiddellik hul oorheersing in dié faset voortgesit het. Volgens SuperSport se rustydstatistieke het die tuisspan die oorhand in die skrums gehad.
Vroeg in die tweede helfte is Wandisile Simelane deur Ruhan Nel vervang, terwyl Ntuthuko Mchunu vir Vernon Matongo opgedraf het. By die All Blacks het Caleb Clarke vir Billy Proctor vervang.
Die Stormers het die All Blacks onder druk gehou en die besoekers is vir onkantspel gestraf ná verskeie fases naby hul doellyn. ’n Skrum op die All Blacks se doellyn is deur die Stormers omgedraai, waarna die tuisspan weer ’n gevaarlike aanval van stapel gestuur het.
SuperSport-kommentator Joel Stransky het Warrick Gelant as “onvoorspelbaar” beskryf en gesê dit is juis dié eienskap wat hom so ’n gevaarlike speler maak.
Die Stormers het die DHL-stadion op sy voete gehad toe hulle meter vir meter veld gewen en herhaaldelik die All Blacks se doellyn bestook het. Ná 50 minute was die telling egter steeds 14-7 in die besoekers se guns.
Kort daarna het Seabelo Senatla die skare laat ontplof met ’n skitterende drie nadat hy van diep af deurgebreek en onkeerbaar oorgegaan het. Yaqeen Ahmed het die doelskop oorgeklits om die telling op 14-14 gelyk te trek.
Intussen het leerders van Wynberg Boys’ High School op die pawiljoen die bekende Norwegian Row uitgevoer, met die dreunsang wat selfs die skeidsregter se fluitjie oordonder het.
Ná 60 minute het die All Blacks hul voorry versterk toe Ollie Norris vir George Bower vervang het.
Die All Blacks het egter vinnig weer beheer oorgeneem. Rieko Ioane, wat deurgaans ’n groot aanvallende bedreiging was, het sy span se volgende drie gedruk. Beauden Barrett het sy doelskop oorgeklits en sy 100%-sukseskoers met die skopskoen behou.
Kort daarna moes Dewaldt Duvenhage met ’n besering die veld verlaat en is hy deur Wandile Mlaba vervang. “Die Stormers het nie meer ’n skrumskakel nie – wil iemand die posisie hê?” het die kommentator tong in die kies opgemerk.
Die All Blacks het daarna weer momentum opgebou en die wedstryd in hul guns laat kantel. Leroy Carter het nog ’n drie gedruk voordat Josh Jacomb sy eerste doelskop van die aand suksesvol oorgeklits het. Ná 70 minute het die besoekers met 28-14 voorgeloop.
Met vyf minute oor het die All Blacks weer toegeslaan toe Josh Moorby die All Blacks se vyfde drie van die aand gedruk het. Jacomb kon egter nie die doelskop oorklits nie, en die telling het op 33-14 gestaan.
Die Stormers het egter teruggeslaan toe Josh Moorby met ’n geelkaart afgestuur is ná ’n hoë duikslag wat tot ’n strafdrie gelei het. Dit was die All Blacks se derde geelkaart van die wedstryd en het die telling tot 33-21 verklein.
Asafo Aumua het ná die eindfluitjie uit ’n dryfmaal oorgeduik om die All Blacks se vyfde drie én die laaste sê van die wedstryd te gee.
Die Stormers het die All Blacks dwarsdeur die wedstryd laat sweet en hulle veral in die skrums en met hul vinnige verdedigingslyn onder druk geplaas. Die besoekers se ervaring en kliniese afronding in die laaste kwart het egter die deurslag gegee, met die All Blacks wat die openingswedstryd van die Greatest Rivalry-toer met 38-21 beklink het.

