Die Griekse premier, Kyriakos Mitsotakis, het rolprentmaker Christopher Nolan bedank omdat hy met sy trefferfliek The Odyssey die kollig weer op Antieke Griekeland geplaas het.
Mitsotakis het die Britse regisseur Maandag tydens ‘n telekonferensie gelukgewens met die sukses van die rolprent, wat internasionale belangstelling in Homeros se antieke epos hernu het.
The Odyssey, wat die verhaal vertel van die Griekse held Odusseus se lang reis huis toe ná die Trojaanse Oorlog, vertolk Matt Damon en Anne Hathaway as Odusseus en Penelope, terwyl Tom Holland hul seun, Telemachos, speel.
Die rolprent was vir twee agtereenvolgende weke boaan die Amerikaanse loket en het reeds $640 miljoen wêreldwyd verdien.
Volgens ‘n verklaring van die eerste minister se kantoor het Mitsotakis Nolan bedank vir die rolprent se bydrae om “wêreldwye belangstelling in die antieke Griekse beskawing te versterk.”
“Sulke produksies vorm ‘n brug tussen Griekeland se ryk kulturele erfenis en hedendaagse kreatiwiteit,” het Mitsotakis gesê.
Spotify het ‘n skerp toename in belangstelling in oudioboekvertalings van The Odyssey aangemeld, met Generasie Z en millennials wat die grootste aanvraag dryf.
‘Ek sou skaam gewees het’
Hoewel The Odyssey wêreldwyd bioskope vol lok, het dit ook debat en kritiek ontlok.
Een van hulle is die bekroonde vertaler, Emily Wilson. Sy het haar ongelukkigheid baie duidelik gedeel.
“Nolan se The Odyssey ontbreek aan sielkundige, emosionele, politieke en etiese diepgang. Die narratiewe struktuur voel gekunseld. Die draaiboek is uiters swak. Geen van die karakters het geloofwaardige motivering vir hul optrede of woorde nie. Daar is geen sekstonele nie, en al die kos lyk aaklig …
“Ek sou skaam gewees het om enige deel van hierdie draaiboek geskryf te het.”
Ook Elon het mond uitgespoel
Tegnologiemagnaat Elon Musk het egter herhaaldelik op X die rolprent gekritiseer en gesê dit het volgens hom die verhaal “ontheilig.”
Maande voor die vrystelling het die wêreld se rykste man kritiek gelei op Nolan se besluit om die swart aktrise Lupita Nyong’o as Helena van Troje en die transgender akteur Elliot Page as die Griekse kryger Sinon te rolverdeel.
Nie alle Grieke juig nie
In Griekeland was daar ook kritiek oor die beperkte betrokkenheid van Griekse akteurs in die rolprent, buiten figurante.
Maar mooie Griekeland stel nie teleur nie
Mitsotakis het Nolan egter gelukgewens met die rolprent se “groot loketsukses” en sy waardering uitgespreek dat ‘n beduidende deel van die produksie in Griekeland verfilm is.
Verskeie tonele is in Messenië en Korinte in die Peloponnesos-streek in suidelike Griekeland geskiet.
Die Peloponnesos was die hartland van die Bronstydperk-beskawing wat in Homeros se epos uitgebeeld word.
Pretfeite oor ‘The Odyssey’
- Die rolprent het geskiedenis gemaak as die eerste vollengte rolprent wat volledig met IMAX-kameras verfilm is
- Vir die seetonele is daar van die Draken Harald Hårfagre, ‘n egte, volgrootte Viking-skip, gebruik gemaak
- Die vervaardigers het ‘n 60 voet (ongeveer 18 meter) lange marionet vir die sikloop gebou en jetski’s ingespan om die water vir die Charybdis-draaikolk-toneel onstuimig te maak
- Geen groen skerm is ingespan nie, en die rolprent is op verskeie werklike plekke regoor die wêreld verfilm, waaronder Griekeland, Italië, Ysland, Skotland, Marokko en die Verenigde State
- Musikant Travis Scott vertolk ‘die’n kameerol in die rolprent, naamlik dié van die paleisbard Phemius wie se openingsuitvoering die ritmiese metrum van Homeros se oorspronklike epiese gedig weerspieël
- Deur na die musiek van die rolprent The Odyssey te luister, hoor jy moontlik klanke wat jy nog nooit tevore gehoor het nie, omdat dit afkomstig is van instrumente wat spesiaal ontwerp is om die musiekinstrumente van meer as 3 000 jaar gelede na te boots.
