Hopefield-groep hoop om stokkie voor reuse-nywerheidsprojek te steek

Foto: Magda Ehlers/pexels.com
Foto: Magda Ehlers/pexels.com

Bekommerde inwoners in Hopefield skop verbete vas teen ‘n beoogde multimiljardse brandstofaanleg en reuse-sonplaas vlak buite dié plattelandse Weskusdorp.

Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstof-verwerkingsaanleg van byna R50 miljard vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad van Hopefield na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoere na onder meer Europese lande.

Die voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), André Truter, wat intussen na die Hopefield-omgewing toe verhuis het, is in ‘n senior bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.

'n Kaart van die voorgestelde ontwikkeling by Hopefield.
‘n Kaart van die voorgestelde ontwikkeling by Hopefield. Foto: Politicsweb

Hopefield is ‘n plattelandse dorp, bekend vir sy unieke fynbos, heuningproduksie, toerisme en landbouaktiwiteite. Inwoners en omgewingsaktiviste meen dié Weskuskarakter van die dorp word deur die beoogde nywerheidsontwikkeling bedreig.

Die omstrede energieprojek sal duisende hektaar bestaande landbougrond beslaan wanneer dit voltooi is, terwyl duisende sonpanele bestaande inheemse en bedreigde Weskusplantegroei sal vervang. Die beoogde sonplaas word as die grootste in die land beskryf.

Hopefield stig aksiegroep

‘n Gemeenskapsaksiegroep, die Hopefield Environmental Petition Group, is intussen in die dorp van stapel gestuur om die projek te beveg.

Volgens Janine Spamers, die organiseerder van dié groep, is ‘n kennisgewing van voorneme Maandag 20 Julie aan staatsdepartemente, plaaslike regerings, projekkonsultante en verskeie bewaringsorganisasies gestuur, waarin aangedui word dat die Hopefield-aksiegroep tot die stryd toetree en beoog om later ‘n amptelike gemeenskapsbeswaarskrif, met onder meer onafhanklike omgewingsstudies, in te dien.

Bekommerde inwoners van Weskusdorpe soos Hopefield, Saldanha en Langebaan by die gebied buite Hopefield waar ‘n omstede energieprojek beplan word. Van links is Jenine Spamers, David Harper, Yvonne Kitchin, Owen Kitchin en Des Coetzee. Foto: Danie Hefers
Bekommerde inwoners van Weskusdorpe soos Hopefield, Saldanha en Langebaan by die gebied buite Hopefield waar ‘n omstede energieprojek beplan word. Van links is Jenine Spamers, David Harper, Yvonne Kitchin, Owen Kitchin en Des Coetzee. Foto: Danie Hefers

Die groep, wat onder meer bekommerde inwoners en grondeienaars verteenwoordig, gaan ook as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party registreer en versoek dat die tydperk vir openbare kommentaar met 90 dae verleng word wanneer die konsepomgewingsimpakverslag (EIA) vrygestel word.

Volgens die beswaarskrif sal die beoogde ontwikkeling byna 6 000 hektaar bedreigde plantegroei vernietig, tot die verlies van waardevolle landbougrond lei en ‘n ernstige bedreiging vir natuurlike waterbronne, vleilande en voëllewe inhou.

“Die projek sal die bestaande plattelandse landboulandskap in ‘n swaar nywerheidsgebied verander. Dit sal die regte van toekomstige geslagte opoffer vir korttermyn voordele.”

Openbare druk word ook op betrokke owerhede uitgeoefen om die projek se status as strategiese geïntegreerde projek (SIP) te kanselleer.

Volgens dié status word die brandstofprojek as ‘n belangrike nasionale projek deur die onderskeie regeringsvlakke beskou en daar bestaan verskeie wettige meganismes wat projekte soos dié help om vinniger deur goedkeuringsprosesse te beweeg.

Dié “groen” waterstofprojek het dié status reeds in 2023 ontvang en staatsdepartemente word aangemoedig om omgewingsgoedkeurings, waterlisensies en ander permitte vir dié soort projekte so vinnig as moontlik af te handel.

Lees die volledige artikel op Nova News


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie