Amerikaanse voortvlugtige bly in aanhouding by St. Albans terwyl uitleweringsproses begin

’n Amerikaanse pa is in Gqeberha vasgetrek.
’n Amerikaanse pa is in Gqeberha vasgetrek. Foto: Verskaf.

’n Amerikaanse pa (56) gaan na Amerika uitgelewer word nadat hy in Gqeberha, in die Oos-Kaap vasgetrek is vir die beweerde seksuele aanranding en verkragting van sy 20-jarige dogter, wie op daardie tydstip 12 jaar oud was.

Die pa wie se naam aan Die Papier bekend is, is Woensdag by sy huis in hegtenis geneem nadat Interpol hom opgespoor het.

Hy het Vrydag op ’n aanklagte van seksuele aanranding, en twee aanklagtes van onsedelike omgang met ’n kind in die Gqeberha-landdroshof verskyn.

Luxolo Tyali, Oos-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Die Papier gesê die staat sal nie nou ’n formele borgsaansoek aanhoor nie. Hulle beplan om nou eers dokumentasie vir sy uitlewering in te dien, bevestig Tyali.

Die staat het ook die hof gevra vir ’n uitstel sodat hulle eers die voorbereiding vir uitlewering kan doen ingevolge die Uitleweringswet, verduidelik Tyali.

Die NVG staan ook borgtog teen omdat die verdagte ’n vlugrisiko is, die ernstigheid van die saak asook die internasionale aspek wat aan die saak verbonde is.

Lt.kol Amanda van Wyk, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, bevestig die pa het in 2017 uit Amerika gevlug nadat die ma van die dogter die saak aan die San Antonio-polisie in Texas aangemeld het.

“Volgens ’n verslag het die verdagte na bewering sy dogter verkrag en eksplisiete boodskappe met haar oor ’n tydperk gedeel. Die slagoffer was op daardie tydstip 12 jaar oud.”

Volgens Van Wyk het die polisie eers agtergekom dat die pa uit Amerika gevlug het, nadat hulle die ondersoek afgehandel het. Hy is later in die Oos-Kaap opgespoor.

’n Lasbrief vir die pa se in hegtenisname is deur Interpol in Pretoria uitgereik nadat Amerika ’n uitleweringsversoek aan hulle gerig het. In samewerking met dieNelson Mandelabaai-metro se intervensie-eenheid, Misdaad Voorkomingseenheid en die Mount Road Misdaadintelligensie in die Oos-Kaap, is die pa vasgetrek, bevestig Van Wyk.

Die beskuldigde sal weer op 3 Junie in die hof verskyn en word intussen in die St. Albans- korrektiewe sentrum aangehou.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie