‘As een val, staan tien op’: Aktiviste teen ‘tenderpreneurs en politiekery’

Millison Wolfe skreeu op van die aktiviste buitekant die hofgebou.
Millison Wolfe skreeu op van die aktiviste buitekant die hofgebou. Foto: Charné Kemp.

Vrydag se verwagte aanhoor van die Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering, Bentley Vass, se hofaansoek om verskeie kwessies rakende die Sol Plaatje-munisipaliteit, is uitgestel glo omdat die premier as party bygevoeg moet word.

Die LUR se hofaansoek gaan daaroor om ’n raadsvergadering en ’n begroting van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley wat ter tafel gelê is, nietig te verklaar, en ’n teenaansoek van die munisipaliteit om Vass se artikel 139-ingryping as onreëlmatig te verklaar.

Intussen, buite die hof, het ’n skermutseling op die sypaadjie van die hooggeregshof uitgebreek tussen ’n persoon wat as “tenderpreneur” uitgekryt is, en gemeenskapsaktiviste wat met plakkate betoog het. Polisielede moes tussenin tree en ’n vrou wat glo eerste ’n oorveeg wou uitdeel, wegsleep. Die strydende partye het ’n ruk lank op mekaar geskree.

Die Kimberley Action Group-aktiviste en munisipale werkers, van wie die meeste staak weens hul teenkanting van die provinsie se ingryping, het aanvanklik vreedsaam buite die hof betoog.

Aktiviste Gerelaine White, Boyce Makodi en Lawrence Mkwakani van die Kimberley Action Group.
Aktiviste Gerelaine White, Boyce Makodi en Lawrence Mkwakani van die Kimberley Action Group. Foto: Charné Kemp.

Vrees uitgespreek

Hul ontevredenheid is teen die provinsiale ingryping by die raad en vrese is uitgespreek dat hulle soos ander aktiviste vermoor mag word. “Dit sal nie help nie, as een van ons val, staan tien op,” het Boyce Makodi van die Kimberley Action Group aan teenwoordiges gesê.

Daar is met skok verwys na onlangse voorvalle waar aktiviste elders in die land “wreed vermoor is,  een wat 12 keer geskiet is en ’n ander wat met 17 skote doodgeskiet” is.

“Maar ons sal nie stilbly of omgekoop word met kospakkies nie. Kiesers moet vir hulself begin dink, ek smeek julle.”

Volgens Makodi is die besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas polities gedrewe en word dit deur tenderpreneurs gedryf wat hul hande op die munisipale geldkis wil lê.

Die betogers voer aan die provinsiale ingryping is ’n “berekende poging deur die provinsiale regering om beheer oor die munisipaliteit se administrasie en bankrekeninge te verkry.”

Dit is glo slegs daarop gemik om geld vir die ANC se komende verkiesingsveldtog te bekom. Makodi voer aan verlede jaar toe hy ’n Artikel 139-ingryping aan die ANC voorgestel het, was hulle daarteen gekant.

“Hoekom nou, so kort voor die verkiesing?”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie