Graan SA en die Nampo-bestuur bevestig dat geen gespletehoefdiere by vanjaar se Nampo-oesdag toegelaat sal word nie. Dié besluit volg ná die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) in Suid-Afrika, insluitend gevalle wat geografies nader aan die sentrale produksiegebiede beweeg het.
Gespletehoefdiere sluit beeste, skape, bokke en varke in, diere wat bekend is daarvoor dat hulle die BKS-virus kan dra en versprei.
Die besluit is eenparig geneem op ’n vergadering tussen Nampo, Graan SA en die verskeie telersgenootskappe, ná deeglike risiko-evaluasie en konsultasie met relevante rolspelers.
“Bek-en-klouseer het nou letterlik naby aan die huis gekom. As beskermers van biosekuriteit kan ons dit nie waag om ’n platform te skep waar risiko’s nie beheer kan word nie,” sê Danie Minnaar, voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee, in ’n mediaverklaring.

Sterk aanbevelings vanuit die Vrystaatse Departement van Landbou dat die risiko rondom dierebyeenkomste tans te hoog is, het die erns van die situasie beklemtoon.
Kundige insette het bevestig dat bestaande protokolle slegs risiko by ’n grootskaalse geleentheid soos Nampo beperk en nie uitskakel nie.
“Nampo neem biosekuriteit uiters ernstig op. Dié vroeë besluit stel telersgenootskappe in staat om hul beplanning betyds aan te pas en voorkom groter risiko’s later,” sê Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo.
Hoewel diere nie fisiek teenwoordig sal wees nie, sal Nampo 2026 dié situasie doelbewus gebruik as ’n opvoedkundige geleentheid om produsente, rolspelers en die breër publiek bewus te maak van die belangrikheid van biosekuriteit; hoe siektes soos bek-en-klouseer versprei, en watter praktiese stappe produsente kan doen om hul eie bedrywighede te beskerm.

Graan SA en Nampo sal voortgaan om met alle relevante partye te konsulteer in die aanloop tot die ekspo en sal enige verdere verwikkelinge betyds kommunikeer.
“Verantwoordelike besluitneming beteken soms om moeilike keuses vroeg te maak.
“Dié besluit is geneem in die beste belang van die bedryf, produsente en Suid-Afrika se dieregesondheid,” sluit Minnaar af.
Wat beteken dit vir telers en besoekers?
- Geen gespletehoefdiere (beeste, skape, bokke, varke) sal toegelaat word nie.
- Nie-risikodiere, soos perde, honde en pluimvee, sal wel toegelaat word, onderhewig aan streng biosekuriteitsmaatreëls.
- Alle diere en voertuie wat betrokke is by dierverwante aktiwiteite, sal bespuit en ontsmet word.
- Praktiese biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers word tans ondersoek en verder verfyn.
- Bewusmakingsinisiatiewe oor biosekuriteit sal regdeur die Nampo-oesdag geïntegreer word.
