Belangrike werke van Gerard Sekoto, Penny Siopis en ander onder die hamer

Strauss & Co se Aandverkoping van moderne en kontemporêre kuns word in Johannesburg gehou.
Strauss & Co se Aandverkoping van moderne en kontemporêre kuns word in Johannesburg gehou. Foto: Strauss & Co.

’n Histories belangrike Gerard Sekoto-skildery van Sophiatown, ’n multikulturele voorstad van Johannesburg wat tydens apartheid gesloop is, word binnekort te koop aangebied.

Sekoto en ander swart baanbreker-kunstenaars se werk kom op Dinsdag 26 Mei om 19:00 regstreeks onder die hamer. Dié vlagskip-aandverkoping van moderne en kontemporêre kuns word in Johannesburg gehou.

Werke van swart moderniste soos Gerard Bhengu en George Pemba en hul opvolgers, veral David Koloane, Ephraim Ngatane en Alfred Thoba, word ook opgeveil.

J. H. Pierneef se ikoniese Bosveldlandskap met Bome (met ’n geskatte waarde van R1,5 miljoen tot R2 miljoen) kom ook onder die hamer, asook Penny Siopis se majestueuse Al Fresco, ’n belangrike werk uit 1990 wat onlangs tydens haar bekroonde museumretrospektief in Athens uitgestal is. Dit is tussen R3 miljoen en R4 miljoen werd.

“Ons katalogus vir die Aandverkoping bied ’n kenmerkend uiteenlopende keur van eersteklas werke. Van Maggie Laubser se Lake Garda-werk van 1920, tot Ruby Swinney, ’n hedendaagse skilder van Kaapstad,” sê Alastair Meredith, direkteur en hoof van die kunsafdeling by Strauss & Co.

Meredith benadruk hoe seldsaam en uniek die werke op die veiling is: “Sydney Kumalo se Sittende Vrou SK5 in brons, wat tussen R500 000 en R600 000 werd is, was sy eerste beeldhouwerk wat die handelaar Egon Guenther in 1960 by sy gelyknamige Johannesburgse galery uitgestal het.”

Ons katalogus vir die Aandverkoping bied ’n kenmerkend uiteenlopende keur van eersteklas werke.

Ander skaars werke sluit die oorspronklike waterverfskildery van Walter Battiss se Alpha Batt 155-selfportret van 1974 (R250 000 tot R350 000 werd) en Durant Sihlali se gekerfde houtbeeld, Shovelling Coal (tussen R40 000 en R60 000 werd), in.

Al tien kunstenaars op Strauss & Co se ranglys van toonaangewende kunstenaars wat sedert 2009 op ’n veiling verkoop is, se werk sal te sien wees by die Aandverkoping, insluitend Alexis Preller, Cecil Skotnes, Anton van Wouw en Vladimir Tretchikoff.

Preller se mitiese olieverfskildery, The Portuguese Birds (tussen R500 000 en R700 000 werd), is in die vroeë 1950’s bekom deur Terence MacDermot, hoë kommissaris vir Kanada, en is vir die verkoping teruggebring na Suid-Afrika.

Irma Stern se 1948-gouache ‘Venice’.
Irma Stern se 1948-gouache ‘Venice’. Foto: Strauss & Co.

Irma Stern, die topverdiener-kunstenaar by die veiling, open die Aandverkoping met haar 1948-gouache Venice (met ’n geskatte waarde van tussen R350 000 en R450 000).

Daar is ook ’n dosyn werke deur J.H. Pierneef, waaronder ’n pragtige werk op papier uit 1924, Hartjie van die Bosveld, Potgietersrust (Transvaal).

’n Dagverkoping, wat slegs aanlyn sal plaasvind en fokus op abstrakte skilderye, word ook gehou, met werke van Cathy Abraham, Jake Aikman, Bill Ainslie, Kevin Atkinson, Armando Baldinelli, Esther Mahlangu en Durant Sihlali. Hierdie sessies begin om 14:00 op 26 Mei.

’n Voorskou van die Aandverkoping se werke, onder toesig van Wilhelm van Rensburg, senior kunskenner en hoofkurator van Strauss & Co, is van 27 Mei te sien by Strauss & Co se galery by Centralstraat 89, Houghton.

’n Paar uitgesoekte werke is ook te sien by die RMB Latitudes Art Fair (22 tot 24 Mei) by Shepstone Gardens in Johannesburg.

Die Aandverkoping sal op Woensdag 27 Mei om 16:00 gevolg word deur die Deep Roots-veiling van kuns, Kaapse meubels, keramiek, silwerware en ’n boekversameling, wat spesiaal uitgesoek is deur die legendariese kunsafslaer Stephan Welz en sy vrou, Carmen Welz. Dié veiling word regstreeks én virtueel gehou.

Besoek Strauss & Co.

Strauss & Co.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie