BKS-stryd duur voort ná hofsege vir boere

Boere het ‘n wetlike en morele verantwoordelikheid om hul diere gesond te hou.
Boere het ‘n wetlike en morele verantwoordelikheid om hul diere gesond te hou. Foto: Freepik.

Die minister van landbou, John Steenhuisen, word daarvan beskuldig dat hy die Pretoriase hooggeregshof se onlangse uitspraak oor private inenting teen bek-en-klouseer verkeerd vertolk en die implikasies daarvan probeer afwater.

Dié kritiek volg nadat die hof beslis het dat boere en private eienaars nie verhinder mag word om entstowwe wat wettig verkry is teen die siekte toe te dien nie. Volgens Saai het die staat nie daarin geslaag om aan te toon dat ’n wettige verbod op private inenting bestaan nie. Saai verwerp die minister se bewering dat die publikasie van die Artikel 10-skema die hofsaak grootliks ingehaal het.

Die organisasie wys daarop dat die hof die skema oorweeg en bevind het dat dit nie ’n algemene verbod op private inenting skep nie. Volgens die hoofuitvoerende beampte van Saai, Francois Rossouw, bevestig die uitspraak dat staatsweerstand moontlike oplossings tydens ’n nasionale dieregesondheidskrisis vertraag het en dat private kapasiteit benut behoort te word.

“Die vraag is nie of die regering ’n rol moet speel nie. Die vraag is waarom die minister en sy departement so hard geveg het om ander te verhinder om te help,” sê Rossouw. Hy beklemtoon dat die hof nie die deur vir wetteloosheid oopgemaak het nie, maar eerder ruimte geskep het vir verantwoordelike private deelname, behoorlike rekordhouding en vinniger optrede teen die siekte.

Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou voer aan dat die doel van die hofsaak nooit was om die staat se rol te beperk nie, maar om te voorkom dat boere, veeartse en ander rolspelers verhinder word om tot die bekamping van bek-en-klouseer by te dra. Rossouw meen die uitspraak moes as ’n geleentheid verwelkom gewees het om die veebedryf beter teen die siekte te posisioneer.

John Steenhuisen, minister van landbou, by die inenting van vee in Katlehong in Maart in Ekurhuleni in Gauteng.
John Steenhuisen, minister van landbou, by die inenting van vee in Katlehong in Maart in Ekurhuleni in Gauteng. Foto: OJ Koloti, Gallo Images.

In plaas daarvan waarsku hy dat die minister se openbare kommentaar verdere onsekerheid en vertraging kan veroorsaak. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê dit is kommerwekkend dat die Minister die indruk skep dat die staat as oorwinnaar uit die saak getree het.

Volgens hom behoort die fokus nou daarop te wees om saam met provinsies en boere te werk en die nodige ondersteuning te bied sodat produsente hul eie inentingsprogramme kan bestuur en die siekte doeltreffend kan bekamp. Wilken sê die situasie laat Vrystaat Landbou wonder of daar nie verskuilde agendas agter die minister se standpunt skuil nie.

“Dit skep die indruk dat sekere oplossings of inligting onderdruk word wat nou deur die hofproses blootgelê is,” sê hy. Hy meen boere moet die geleentheid kry om hul diere binne die raamwerk van die wet te beskerm en hul boerderye volhoubaar te bestuur.

“Boere het ’n wetlike en morele verantwoordelikheid om hul diere gesond te hou. Daarom moet hulle toegelaat word om alle beskikbare en wettige maatreëls te gebruik om hul kuddes teen bek-en-klouseer te beskerm,” sê Wilken.

  • Novus Media het ’n amptelike navraag aan die minister se kantoor gerig en wag op sy terugvoer.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie