Bok-skrumdokter Daan Human het jóú hulp nodig vir 3de toets teen All Blacks

Bok-hulpafrigter Daan Human saam met ’n Springbok-oefengroep.
Bok-hulpafrigter Daan Human saam met ’n Springbok-oefengroep. Foto: Phill Magakoe / AFP.

Springbok-skrumafrigter Daan Human wil hê Suid-Afrikaanse ondersteuners moet die skrum luidkeels aanmoedig voor die derde toets teen die All Blacks in die Greatest Rivalry-reeks by FNB-stadion.

Human het verslaggewers dié week laat skaterlag toe hy onthul het wat hy graag van die skare in Johannesburg sou wou hoor.

“Ek het eintlik op pad hierheen gedink: Wat is daardie land by die Sokkerwêreldbeker waar hulle ‘row, row’ skree? Noorweë. Ek sal eintlik daarvan hou as hulle ‘skrum, skrum’ skree.

“Maar ek dink Suid-Afrikaners is lief vir die spel en hulle is lief vir die skrum, so ons sal ons bes doen om vir hulle op te tree, want hulle verdien dit.

“Ek hoop daar is minstens 20 skrums in die wedstryd. Dit is waarvoor ek hoop.”

Neem deel aan Die Papier se ‘Skrum, skrum, skrum’-veldtog.

  • Stuur dié plakkate vir Saterdag se rugbygangers. Druk dit uit. Maak video’s en deel dit. Kom ons help die Bokke om die All Blacks, wat kla oor die skrums, behóórlik te skrum. Kry jou plakkate hier. Of kry jou plakkaat in Die Papier.

Hier is voorbeeld van die plakkate wat deel is van die veldtog:

Oor die ondersteuning wat die Springbokke regoor die land geniet, sê Human dit maak nie saak waar hulle speel nie, want die span weet die land staan agter hulle.

“Met al die Suid-Afrikaanse ondersteuning wat ons tans het, gee ek nie om of ons in Verkeerdevlei of by FNB speel nie, ek gee regtig nie om nie.

“Ek weet dat ons, waar ons ook al gaan, ondersteuning in Suid-Afrika het.

“Maar dit is duidelik dat ons hulle nie wil teleurstel nie, want hulle staan werklik agter ons, en ons moet iets teruggee.”

  • Die afskop is Saterdag om 17:10.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos