Bok-vroue wil ranglys klim

Die Springbok-vrouespan.
Die Springbok-vrouespan. Foto: Facebook.

’n Oorwinning Saterdag vir Swys de Bruin, die afrigter van die Springbok-vrouespan, is ’n gulde geleentheid om in die eerste wedstryd van die seisoen reeds hul plek op Wêreldrugby se ranglys te verbeter.

Amerika sal vir die eerste keer in Afrika in aksie wees wanneer die spanne mekaar of Ellispark in ’n voorwedstryd van die Springbokke pak.

Die Bok-vroue is tans 10de op die ranglys en Amerika in die agtste posisie.

Die Bok-vroue se puik vertoning in verlede jaar se Wêreldbeker, toe hulle die kwarteindstryd gehaal het, is oorgehaal om hul stempel vanjaar verder af te druk.

Die spelers het gedurende die week se voorbereiding by St. John’s College in Johannesburg op hul skrumkrag en die vaste fasette saam met verdediging, wat deurslaggewende faktore teen die besoekers kan wees, gefokus.

De Bruin is van mening dat hulle die kennis en ervaring wat hulle by die Wêreldbeker en verlede jaar in ’n wedstryd teen Kanada opgedoen het, tot hul voordeel teen Amerika kan gebruik.

Die Bok-vroue kon van 2009 tot 2023 net een van ses wedstryde teen die besoekers van Amerika wen – in 2011 in Ontario.

Voorlangs sal die ­ervaring van spelers soos Babalwa Latsha, Lerato Maku en Catha Jacobs hul spanmaats moet aanvuur om van die begin af druk toe te pas.

Dit sal goeie balbesit agterlangs aan Libbie Janse van Rensburg, Ayanda Malinga, Byrhandré Dolf en Jakkie Cilliers verskaf.

Die oorsese ondervinding van Danelle Lochner (Harlequins) en Micke Gunter (Leicester) kan ook ’n positiewe verskil maak.

Beserings van ervare spelers soos Nadine Roos, Lindelwa Gwala, Aseza Hele, Donelle Snyders en Chumisa Qawe saam met die uittrede van die kaptein, Nolusindiso Booi, laat ’n leemte wat so vinnig as moontlik deur onder andere die 22 Wêreldbeker-spelers, wat steeds deel van die groep is, gevul sal moet word.

Die eerste van twee toetse teen Amerika is die begin van ’n opwindende seisoen met kragmetings teen Nieu-Seeland en Ierland wat tuis voorlê.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie