Westelike Provinsie het ses drieë gedruk om die Westelike Provinsie XV Saterdag in die laaste wedstryd van die FNB o.18-Cravenweek by Grey High School in Gqeberha met 40-24 te klop.
WP het daarmee sy derde agtereenvolgende oorwinning van die toernooi behaal, terwyl die Valke, Suidwestelike Distrikte (SWD), Griekwas, Blou Bulle, Luiperds, Boland en die Haaie ook op die vyfde en laaste speeldag as wenners uit die stryd getree het.
Albei WP-spanne het vir die eerste keer tot die nie-amptelike eindstryd van die FNB o.18-Cravenweek deurgedring nadat hulle hul onderskeie wedstryde in die vroeë rondes van die toernooi gewen het.
Toe die twee Kaapse spanne mekaar Saterdag op die Kolisi-veld in Gqeberha pak, het die senior span die tweede span met ses drieë teenoor vier uitgestof en uiteindelik met 40-24 geseëvier. WP-kaptein Tiaan Basson en losskakel Ethan van Biljon het elk twee drieë gedruk, terwyl heelagter Achmat Behardien vyf doelskoppe oorgeklits het.
So het die res van die dag verloop
Vroeër die dag het SWD-vleuel Bronwin Swiegelaar twee drieë gedruk in sy span se oortuigende oorwinning van 41-19 oor Oostelike Provinsie, terwyl die Limpopo Blou Bulle ‘n vasberade Valke-span met 27-24 geklop het.
Griekwas se haker Wian Maritz het twee drieë gedruk in sy span se oorwinning van 36-26 oor die Griffons, terwyl losskakel Ruan Fluks 15 punte aangeteken het in die Blou Bulle se naelskraapse sege van 30-29 oor die Vrystaat.
Die Luiperds se buitesenter, Marques Jantjies, het sy indrukwekkende drie-drukvorm voortgesit met ‘n driekuns in die 45-31-oorwinning oor Grens, terwyl Boland met ‘n laat oplewing die Pumas met 40-17 verslaan het.
Die Goue Leeus was naby aan ‘n oorwinning oor die Haaie, maar ‘n laat strafdoelpoging het regs van die pale verbygegaan, waarna die KwaZulu-Natalse span met ‘n skrale oorwinning van 31-30 weggestap het. Die Leeus se vleuel, Lethabo Mashao, het twee drieë gedruk ondanks sy span se nederlaag.
11 Julie se resultate
- SWD 41 (24) Oostelike Provinse 19 (7)
- Griekwas 36 (17) Griffons 26 (13)
- Limpopo Blou Bulle 27 (17) Valke 24 (5)
- Vrystaat 29 (10) Blou Bulle 30 (20)
- Boland 40 (14) Pumas 17 (17)
- Luiperds 45 (21) Grens 31 (14)
- Haaie 31 (21) Goue Leeus 30 (17)
Kry die volledige resultate vir die Cravenweek-rugby by KickOff
