Die heel eerste Nasieskampioenskap-reeks sorg beslis vir baie drama. Sommige wedstryde word net-net gewen in die eerste week, maar dan hardloop spanne weg met hul teenstanders in die tweede week.
Een ding waaroor daar wel week in en week uit sekerheid is, is dat Kiwi-vleuel Will Jordan drieë sál druk.
Alles het egter nie klopdisselboom vir die All Blacks verloop nie, veral in die eerste helfte waar hulle slegs 14-10 voor was teen rustyd. Dít was egter ’n heel ander storie in die tweede helfte toe hulle uiteindelik met 47-17 in Wellington gewen het. Jordan het ook Nieu-Seeland se rekord vir die meeste toetsdrieë verbeter deur sy 50ste toetsdrie te druk.
By die Suncorp-stadium in Brisbane het die Wallabies hard probeer en ná die eerste helfte in beheer gelyk, maar ’n sterk tweede helfte deur Frankryk het Australië se planne in hul Nasieskampioenskap-wedstryd in ontspoor.
Frankryk, wat met rustyd met 21-12 agter was, het ná ’n geelkaart vir Australië drie drieë vinnig na mekaar gedruk om met 42-26 te wen.
Japan se wonderlike 27-10-sege oor Italië verlede week, is hierdie week ongedaan gemaak toe hulle 20-36 teen Ierland verloor het. Ierland se vyf drieë teenoor Japan se twee het verseker dat die manne in groen hul tweede wedstryd in die reeks wen, ná hulle verlede week net-net met 33-31 vir Australië geklop het.
Fidji, wat verlede week 39-24 teen Wallis verloor het, is hierdie week selfs nog ’n harder klap weg toe hulle 73-8 teen Engeland verloor het. Drieë deur onder andere Benhard Janse van Rensburg, Marcus Smith en kaptein Jamie George, en natuurlik Henry Pollock se driekuns, het almal bygedra tot die massiewe telling waar Engeland 11 drieë gedruk het, teenoor Fidji se een.
