KYK | DA eis ondersoek oor ‘onwettige’ skuldafskrywing by Upingtonse oord

Die Eiland-vakansieoord in Upington. Foto: Argief
Die Eiland-vakansieoord in Upington. Foto: Argief

Die DA vra vir ’n forensiese ondersoek nadat byna R6 miljoen se skuld wat met Upington se Die Eiland-vakansieoord verbind word, glo onwettig afgeskryf is. Die saak het nou verder handuit geruk omdat die Dawid Kruiper-munisipaliteit en die huurder, Khethiwe Group, glo mekaar weerspreek.

Volgens die DA in Upington se hoofsweep, Henk Opperman, het Khethiwe Group in Oktober 2023 aansoek gedoen dat meer as R2,8 miljoen se skuld afgeskryf word. Die maatskappy het glo aangevoer dat hulle verbeterings aan die oord aangebring het. Opperman sê egter die huurkontrak bepaal duidelik dat dié verbeterings op die huurder se eie koste moes wees.

Hy beweer die raad het besluit dat die saak eers deur die tender-beoordelingskomitee ondersoek moet word en daarna weer na die raad teruggestuur moet word vir finale goedkeuring.

Volgens hom het die komitee egter self die skuldafskrywing goedgekeur sonder toestemming van die raad. Opperman meen dit is onreëlmatig en onwettig.

Opperman sê die skuld het intussen tot amper R6 miljoen gegroei. Hy wil hê dr. Elias Ntoba, die munisipale bestuurder, moet dringend ’n forensiese ondersoek instel. Hy beplan ook om klagtes by die Ouditeur-Generaal en die Openbare Beskermer in te dien.

Die munisipaliteit se woordvoerder, Patrick Williams, ontken egter dat enige skuld afgeskryf is. Hy sê die volle bedrag van sowat R5,8 miljoen vir huur en dienste word steeds as uitstaande skuld beskou en die munisipaliteit probeer dit invorder. Volgens Williams het die raad reeds kennis geneem dat Khethiwe Group die kontrak beëindig het, maar die regsproses om die geld terug te kry gaan voort.

Khethiwe Group hou egter vol hulle was geregtig op die skuldvermindering. Jacques Henning, deur sy prokureur Coenie Willemse, sê die kwytskelding is deur die munisipaliteit goedgekeur en vorm deel van die kontrak. Die maatskappy ontken ook dat hulle byna R6 miljoen skuld en sê die munisipaliteit het versuim om hul rekening reg te maak.

Die geskil kom terwyl Die Eiland-oord al jare lank agteruitgaan. Teen 2022 was die gewilde toeristeplek grootliks verlate en beskadig. Daar was ook vroeër kritiek oor die toekenning van die 15-jaar huurkontrak aan Khethiwe Group.

Lees die volledige artikel hier op NovaNews.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie