Die Demokratiese Alliansie (DA) het vandag sy manifes vir die 2026-munisipale verkiesing op die Mary Fitzgerald-plein in Newtown, Johannesburg, bekend gestel met ’n sterk fokus op plaaslike dienslewering, groter magte vir munisipaliteite en die bekamping van korrupsie.
Die party se veldtog word gevoer onder die tema “Working For All”, met die DA wat homself as ’n alternatief vir die verval van plaaslike regering en dienslewering posisioneer.
Die manifes is rondom vier kernprioriteite gebou: betroubare basiese dienste, openbare veiligheid, die bekamping van korrupsie en werkskepping.
Meer mag vir munisipaliteite
Een van die sentrale voorstelle in die manifes is dat munisipaliteite groter bevoegdhede moet kry om probleme op plaaslike vlak aan te pak.
Die DA wil onder meer hê munisipaliteite moet groter vryheid kry om elektrisiteit direk van onafhanklike kragprodusente aan te koop asook groter polisiëringsbevoegdhede aan plaaslike wetstoepassingsdienste gee om misdaad in gemeenskappe doeltreffend te bekamp.
Volgens die DA sal sterker plaaslike regering dit makliker maak om infrastruktuur te herstel, basiese dienste te verbeter en inwoners direk verantwoordelik te hou vir die bestuur van hul gemeenskappe.
Geordin Hill-Lewis, DA-federale leier, het gesê Suid-Afrika se dorpe en stede kan oor skoon water, opgeknapte paaie, betroubare elektrisiteit en veiliger gemeenskappe beskik.

“Die DA is die enigste party wat Suid-Afrika vir almal aan die werk kan kry.”
Hill-Lewis het ook die party se bestaande bestuursrekord beklemtoon en gesê DA-beheerde provinsies en munisipaliteite sal gemeenskappe beter teen die gevolge van staatsverval kan beskerm.
“Die DA is die enigste party met ’n bewese rekord van optrede én ’n belofte om voort te bou daarop.”
Zille: “Jy kan nie bevoegdheid namaak nie”
Helen Zille, die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, het die ekonomiese herstel van die stad en die aanstelling van bekwame mense as van haar belangrikste prioriteite uitgelig.
Zille het gesê korrupsie moet beëindig word en dat mense met die nodige vaardighede aangestel moet word om spesifieke munisipale dienste te bestuur.
“Jy kan nie bevoegdheid namaak nie. Eerstens sal ons mense aanstel wat oor integriteit beskik en die nodige vaardighede het om die werk te doen. Ingenieurs moet ingenieursdienste bestuur.”

Volgens Zille gaan die herstel van Johannesburg egter oor meer as net infrastruktuur. Sy het gesê standaarde, vertroue en inwoners se trots in die stad moet ook herstel word.
Sy het kiesers opgeroep om die agteruitgang te stuit en die gety vir Johannesburg te keer.
DA wil volstrekte meerderhede hê
Jan de Villiers, DA-LP en partywoordvoerder, het intussen ’n sterk standpunt oor koalisies ingeneem.
“Moenie ons in koalisies indwing nie, want koalisies is onstabiel. Ons wil ’n volstrekte meerderheid behaal, want dít bring stabiliteit en stel ons in staat om mense die dienste te lewer wat hulle verdien.”

Koalisies sal na verwagting ’n belangrike rol in die komende munisipale verkiesing speel, veral in die groot metropole waar geen enkele party noodwendig ’n volstrekte meerderheid kan verseker nie.
“Tyd raak min”
Ashor Sarupen, Die DA se nasionale veldtogbestuurder, het gesê die party se kernmissie is om Suid-Afrikaanse dorpe en stede weer behoorlik te laat funksioneer.
“Tyd raak min vir baie munisipaliteite, wat hierdie missie van kritieke belang maak.”
Sarupen het ook die keuse van Newtown as die plek vir die manifesbekendstelling beskryf as ’n doelbewuste verklaring van die party se voorneme in Johannesburg.
Die DA het reeds Helen Zille, Cilliers Brink en Khathutshelo Rasilingwane as sy kandidate vir onderskeidelik Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni aangekondig.

