Die Kinderfonds: Huis Andrew Murray wys hoop en herstel ís moontlik

’n Foto wat verlede jaar tydens ’n uitreik op Mandela-dag plaasgevind het.
’n Foto wat verlede jaar tydens ’n uitreik op Mandela-dag plaasgevind het. Foto: Facebook.

Vir honderde kwesbare kinders in Suid-Afrika beteken Die Kinderfonds nie net ondersteuning nie, maar ’n kans op ’n nuwe lewe.

Volgens Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van ­Die Kinderfonds, vervul Huis Andrew Murray (HAM) in Wellington ’n belangrike rol om kinders uit moeilike omstandighede te help.

Dié geregistreerde kinder- en jeugsorgsentrum bied ’n veilige tuiste vir 155 kwesbare kinders tussen een en agttien jaar oud.

“Baie van hierdie kinders kom uit omgewings waar trauma, verwaarlosing en armoede deel van hul daaglikse lewe was,” sê Van Staden.

By HAM val die fokus op tera­peutiese sorg, wat individuele terapie insluit, maar hier gaan dit oor meer as net kinders se emosionele welstand.

’n Fokus op vroeëkinder­ontwikkeling en basiese vaardighede soos taal-, lees- en syfervaardighede help kinders om ontwikkelingsagterstande uit te wis en akademies te vorder.

Volgens Van Staden is hierdie soort ondersteuning noodsaaklik in ’n land waar baie gesinne met uitdagings soos werkloosheid, dwelmmisbruik en misdaad worstel.

“Huis Andrew Murray se programme help om hierdie leemtes te vul en kinders ’n kans te gee om hul volle potensiaal te bereik,” sê sy. Geriewe soos ’n nuwe speelruimte help nie net met fisieke ontwikkeling nie, maar ook met sosiale ontwikkeling.

“Ons wil hê elke kind hier moet weet hulle is waardevol en het ’n toekoms,” sê Jane Muller, HAM se bemarkingsbeampte.

Met elke mylpaal wat bereik word, wys Die Kinderfonds saam met Huis Andrew Murray dat hoop en herstel wel moontlik is, sê Van Staden.

Die Kinderfonds ondersteun verskeie kinderhuise en ­ander kinderwelsynsprogramme landwyd.

  • Donasies kan inbetaal word by Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer en naam as verwysing.
  • Bydraes is belastingaftrekbaar.
  • Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie