Nie eers die verpligte oranje oorpluisies kon die klak-klak-klak van die rolpers demp toe die eerste uitgawe van Die Papier gister gedruk is nie. En ten spyte van die beskermende pluisies en drukker-gedreun, het besoekers aan Novus Holdings se drukpers geesdriftig gesels en gelag terwyl hulle die eerste uitgawe van die vervoerband af opgeraap het.
’n Bussie met enkele personeellede, die Novus Media-advertensiespan en Novus-bestuurslede, is gistermiddag na dié rolpers in City Deep, Johannesburg, om te sien hoe die eerste opgawe van plate tot gedrukte papier vorm aanneem nadat die bladsye uit die kantoor in Rosebank na die drukkers gestuur is.
“Die plek is massief! Kyk, daar bo! Daar loop hy!” het een van die besoekers uitgeroep terwyl almal die drukspoorlyne met afwagting gevolg het tot waar dit reg is om die finale weergawe op te tel.

Barnard Beukman, redakteur van Die Papier, het die eindproduk krities bekyk. “Dit was ’n ongelooflike oomblik om weer ’n gedrukte Afrikaanse koerant – en ’n goeie een daarby – vas te hou. Nou moet die lesers aan boord kom, eienaarskap neem en dit ’n stem en bate vir Afrikaanssprekendes en die hele Suid-Afrika maak.”
Met Die Papier in die hand is almal terug om vingerhappies te eet met die einste vingers wat deur die hoofkoerant en die bylaag Dink blaai.
“Ek kan nie glo sy skryf vir julle nie,” het iemand opgemerk, terwyl ander onder mekaar gesels het oor die foto’s, storiekeuses en hoe dit voel om weer ’n verpakte nuusaanbod van begin tot einde te lees.
’n Onmiskenbare koerantreuk het in die bussie gehang op pad terug na die kantoor om daar verder uit te deel. Redaksielede het met trots na hul eerste stories gekyk en reeds begin dink waar hulle kan verbeter.
En met een op die rak en verskeie in die kantoor, is daar reeds spertye wat vandag gehaal moet word vir die volgende een.
