Terwyl inwoners van die Oystercatcher- en die Plover-ontwikkelings maandeliks hul munisipale heffing vir rioolverwydering betaal, moet hulle bykomend derduisende rande uit die sak haal om ’n kontrakteur te betaal om hul riool uit te pomp.
Die krisis, wat reeds sedert 2023 voortsleep, het nou ’n kritieke punt bereik waar inwoners van dié ontwikkelings agter die Curro-privaatskool self al R150 000 betaal het vir die uitpomp van riool, terwyl die rioolpompstasie steeds nie aan Eskom se kragnetwerk gekoppel is nie.
Eddie Morrison, voorsitter van die trustees en landgoedbestuurder, het in ’n onderhoud met Weslander gesê die inwoners dra self by om ’n private kontrakteur sowat R2 600 per uur te betaal om die riool omtrent drie keer per week te kom uitpomp. “Ons betaal sedert 2023 ’n basiese rioolheffing aan die Saldanhabaai-munisipaliteit van R260 per maand, maar ons kry geen rioleringsdiens nie.”
Morrison waarsku dat as die situasie nie opgelos word nie, hulle moontlik inwoners se maandelikse eiendomsheffing tot R900 sal moet verhoog. “Ons word reeds verarm,” het hy gesê.

Goedkeurings sonder inspeksies
Die wortel van die probleem lê by goedkeurings wat blykbaar sonder behoorlike inspeksies gegee is.
“Die ontwikkeling is afgeteken sonder dat die SBM ’n inspeksie gehou het om te verseker dat die riooldienste in plek is,” het Morrison verduidelik. Die groen lig is hierna aan die oorspronklike ontwikkelaar, Prime Growth Properties, gegee.
Prime Growth het volgens Morrison allerhande beloftes gemaak wat nooit gebeur het nie. Die kernprobleem is dat die rioolpomp se elektriese verbinding nooit gefinaliseer is nie, ten spyte van herhaalde beloftes sedert 2024. Daar is bewerings dat Prime Growth nie die elektriese kontrakteur se rekening van ongeveer R80 000 betaal het sodat die pomp aan die elektriese netwerk gekoppel kon word nie.
Gerhard Erasmus van Prime Growth Properties het in reaksie gesê dat hulle via hul elektriese ingenieur, Triocom, op 27 Julie 2022 by Eskom aansoek gedoen het om die konneksie. Eskom het die aansluiting goedgekeur en hulle het ’n kontrakteur aangestel om die kabel te lê.
“Ons het die nodige fooi van R43 000 daarvoor betaal. Hulle het die punt, sonder iemand se medewete, verkeerdelik geïnstalleer. Prime Growth het vir 18 maande vir die konneksie betaal met die verstandhouding dat dit funksioneer,” het Erasmus gesê.
Hy het verduidelik dat Prime Growth intussen albei eiendomme, Plover én Oystercatcher, aan ander ontwikkelaars verkoop het. Oystercatcher se erf is gekoop deur Kingpaul Investments, wat dit in 53 plot-en-plan-eenhede opgedeel en verkoop het.
Plover se erf 10917 is gekoop deur Plover Property Development en in 35 plot-en-plan-eenhede opgedeel en verkoop. Al die eenhede is reeds oorgedra. “Kingpaul het self by die munisipaliteit aansoek gedoen om okkupasiesertifikate. Dit het niks met ons te doen gehad nie, dit is tussen hulle en die munisipaliteit,” het Erasmus gesê.
Hy het bevestig dat hy op Maandag 25 Mei weer ’n skrywe aan Eskom oor die kwessie gerig het.
