Discovery-hoof Adrian Gore het Vitality in die bad uitgedink

,
Adrian Gore, Discovery-hoof, in gesprek met die hoofredakteur van CNN Business, Richard Quest, tydens Gore se boekbekendstelling.
Adrian Gore, Discovery-hoof, in gesprek met die hoofredakteur van CNN Business, Richard Quest, tydens Gore se boekbekendstelling. Foto: Verskaf.

Sê nou Discovery probeer nie mediese dekking aan gimnasiumlede verkoop nie, maar beloon eerder sy eie lede om gimnasium toe te gaan?

Dié innoverende gedagte het by Adrian Gore, hoof en stigter van Discovery, in die bad opgekom nadat sy span lank geworstel het met ’n voorgestelde vennootskap met Health & Racquet Club.

Die idee sou help om Vitality te vorm – Discovery se model wat gesonder gedrag met allerlei voordele “beloon”.

Gore het dié verhaal tydens die “slegs per uitnodiging”-bekendstelling van sy nuwe boek, The Four Principles, in Sandton met omtrent 800 sakelui en personeel van Discovery gedeel. Hy was in gesprek met die hoofredakteur van CNN Business, Richard Quest.

Adrian Gore, Discovery-hoof, tydens die bekendstelling van sy boek ‘The Four Principles’ in Sandton.
Adrian Gore, Discovery-hoof, tydens die bekendstelling van sy boek ‘The Four Principles’ in Sandton. Foto: Verskaf.

Vir Gore illustreer die bad-oomblik die “Pareto-stert”: een van die vier beginsels wat hy in sy boek bespreek en een van daardie seldsame besluite wat ’n buitensporig groot invloed op ’n onderneming se rigting kan hê.

Die vier beginsels spruit uit Gore se sake- en leierskapslesse uit drie dekades wat volgens hom mense kan help om potensiaal in buitengewone impak te omskep.

Hy sê mense is van nature geprogrammeer om negatiewe tekens raak te sien. Die eerste beginsel, “gedissiplineerde optimisme”, werk dié instink teen deur geleenthede raak te sien wat ander miskyk. “Gefokusde dringendheid” berus op die besef dat ons belewenis van tyd korter is as wat ons dink en “verklaarde doelwitte” gebruik gewaagde ondernemings om motivering en optrede aan te wakker.

Die vierde beginsel, die Pareto-stert, gegrond op die 80:20-beginsel, fokus op die paar besluite wat buitensporig groot gevolge kan hê. Gore, ’n aktuaris, het Discovery in 1992 gestig met die doel om mense gesonder te maak.

Die maatskappy het in 1997 op die JSE genoteer en het sedertdien tot ’n multinasionale finansiëledienstegroep gegroei.

‘The Four Principles’ deur Adrian Gore.
‘The Four Principles’ deur Adrian Gore. Foto: Verskaf.

Gore het vertel hy het self die vier beginsels in Discovery oor die jare toegepas. Nuwe regulasies vir mediese skemas het Discovery se risikogebaseerde sakemodel so erg in 1999 bedreig dat hulle voor Kersfees twee weke gegun is om daaraan te voldoen of sy deure te sluit.

Die span het gevra hoe hulle die bedreiging tot hul voordeel kon gebruik en uiteindelik ’n struktuur ontwikkel wat Discovery meer mededingend gemaak het. In dié geval was gefokusde dringendheid nie ’n keuse nie, sê hy.

Terry Morris, besturende direkteur van Pan Macmillan Suid-Afrika wat die boek uitgee, het gesê die boek is reeds in sy tweede herdruk.


Kategorieë: ,

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos