3 sterf in gru-ongeluk in Dutoitskloof-pas

Die ongelukstoneel op Dutoitskloof-pas Dinsdagmiddag, 4 Augustus.
Die ongelukstoneel op Dutoitskloof-pas Dinsdagmiddag, 4 Augustus. Foto: One-Way Towing/Car-Towing Services.

Verkeer op die R101 by Dutoitskloof-pas aan Worcester se kant van die ou tonnel is Dinsdagoggend, 4 Augustus, tot stilstand gebring ná ’n grusame ongeluk.

Muneera Allie, woordvoerder vir die Mobiliteit Departement in die Wes-Kaap, het die tragiese ongeluk bevestig.

“Ons bevestig dat ’n botsing tussen drie swaar motorvoertuie en een ligte afleweringsvoertuig vanoggend omstreeks 11:30 op die R101 by Dutoitskloof plaasgevind het. Ongelukkig is drie sterftes bevestig.”

Volgens Allie is die pad heeltemal gesluit terwyl nooddienste en wetstoepassing voortgaan met reddings- en ondersoekoperasies.

“Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes via die N1 deur die Hugenote-tonnel, die N2 via Sir Lowry’s Pass, of die R46 via Nuwekloof-pas te gebruik. Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om geduldig te wees, die aanwysings van amptenare op die perseel te volg en uiters versigtig in die gebied te wees.”

Konst. Ndakhe Gwala, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het intussen ook die ongeluk bevestig tussen die drie vragmoters, ’n afleweringsbakkie en ’n ligte voertuig.

“Drie mense wat in die afleweringsbakkie was, is op die toneel dood verklaar, terwyl een persoon wat in een van die vragmotors was, geringe beserings opgedoen het en na ’n mediese fasiliteit vervoer is.”

Gwala sê ’n dossier vir strafbare manslag is geopen en die ondersoek deur die Paarl-polisie duur voort.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos