Die bewaringsorganisasies Bloodlions en Humane World for Animals het ’n dringende beroep op lede van die portfoliokomitee oor bosbou, visserye en die omgewing gedoen om die lot van meer as 8 000 geblikte leeus onder David Maynier, nuwe DA-minister van dié portefeulje, te bring.
Terwyl die regering oënskynlik huiwerig is om die bedryf te sluit, word die aantal halfmak-leeus in aanhouding net meer en neem die “wreedheid” toe. Dít terwyl Suid-Afrika se aansien as bewaringsbestemming onder oorsese toeriste vinnig taan.

Foto: Bloodlions
Dr. Louise de Waal, uitvoerende bestuurder van Bloodlions sê aan Die Papier omgewingsorganisasies se frustrasie met dié bedryf is aan die oplaai.
Bloodlions se span het onlangs (25 Augustus) aan die portfoliokomitee gesê dié “onetiese” bedryf skaad Suid-Afrika se internasionale beeld as bewaringsbestemming. ’n Peiling wat Bloodlions laat doen het, wys die meeste Suid-Afrikaners wat daaraan deelgeneem het, meen ook die bedryf buit die leeus vir kommersiële gewin uit, dit “wreed en oneties” is en dat dit internasionale toerisme na die land knou.
De Waal sê die departement van bosbou, visserye en die omgewing het reeds in 2018, tydens ’n beraad wat deur bewaringsorganisasies, die burgerlike samelewing, politici, amptenare en wetenskaplikes bygewoon is, besluit die geblikte leeubedryf moet sluit omdat dit onder meer geen bewaringswaarde het nie.
Dit is nou agt jaar later. Sedertdien is byna “geen vordering” gemaak om dit te sluit nie.
Voormalige ministers van dié departement, Barbara Creecy en dr. Dion George, was vasbelote om dié bedryf uit te fasseer, maar weens skuiwe onder die ministers van dié departement is dit “asof als tot stilstand gekom het”.

De Waal het aan die portfoliokomitee gesê die vorige minister, Willie Aucamp, nou minister van landbou, wou oënskynlik die proses probeer vertraag deurdat hy nie standpunt wou inneem nie en nog “studies” wou laat onderneem.
Luidens Bloodlions se verslag het Aucamp noue bande met hierdie industrie gehad en was van sy familielede betrokke by die jagbedryf, asook by die teel van wild.
De Waal het aan die komitee gesê die verslag oor die nadele van hierdie “omstrede bedryf” is in Maart vanjaar aan die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gestuur, maar Bloodlions “het tot dusver geen reaksie van enige van die amptenare ontvang nie”.
Andrew de Blocq van Scheltinga, DA-LP het tydens die portfoliokomiteevergadering, aan De Waal gesê Bloodlions moet nie “oorhaastig wees nie” en Maynier, kans gee om dié aspekte rondom die leeus wat in aanhouding geteel word, te bestudeer.
Peiling wys: Die wêreld draai sy rug op geblikte leeus
De Blocq van Scheltinga, het die integriteit van Bloodlions se peiling bevraagteken. Volgens hom sal internasionale besoekers aan Kaapstad en byvoorbeeld Clifton hulle nie daaraan steur wat in die leeubedryf aan die gang is nie. “Hulle sal steeds Suid-Afrika toe kom”.

Foto: Stephanie Klarmann
Luidens die verslag wat De Waal aan die portfoliokomitee voorgelees het:
- Suid-Afrika is die enigste land in Afrika wat leeus en ander roofdiere in aanhouding teel.
- Die 8 000 leeus wat in “klein hokkies” op 350 plase aangehou word, word dikwels as “trofee gejag”. Buiten leeus word “duisende ander roofdiere, waarvan sommige uitheems is,” op soortgelyke plase geteel.
- Die meeste van die plase is in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo geleë.
- Die World Travel Tourism Council sê toerisme dra 9% by tot Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk. Die leeubedryf het die potensiaal om toerisme te skaad.
- 2 528 respondente het aan die peiling deelgeneem. Die respondente is van Brittanje (502), Amerika (502), Duitsland (504) en Nederland (501).
- 77% Suid-Afrikaners (519) het aangedui hulle is gekant teen die geblikte leeubedryf. Hulle meen dié bedryf kan nie beskou word as deel van Suid-Afrika se wildlewe nie en moet gesluit word.
- 77% Britte het gesê hulle sal die land nie besoek nie omdat Suid-Afrika leeus in aanhouding vir kommersiële gewin teel.
- 66% van diegene wat aan die peiling deelgeneem (nasionaal, sowel as internasionaal) het, het gesê hulle beskou die bedryf as “oneties”.
- Byna 1 100 het gesê hulle is bekommerd oor die geblikte leeus se welsyn. Die meeste van hierdie mense was Nederlanders.
