Dricus du Plessis is weer op die wenpad met ’n oorwinning oor Kamaru Usman in die hoofgeveg van UFC Oklahoma City. Die voormalige middelgewigkampioen het ’n laat aanslag van die legendariese Nigeriër oorleef om met 50-45, 49-46 en 49-46 te wen in ’n taktiese geveg wat nooit werklik ’n hoogtepunt beleef het nie
Du Plessis het as die nommer twee-middelgewig die geveg betree en was vasbeslote om terug te slaan nadat hy sy titel in sy vorige geveg verloor het. Usman, wat laas in Junie 2025 geveg het, het van weltergewig opgeskuif in ’n poging om ’n tweede UFC-titel in ‘n ander gewigsklas te verower.
Suid-Afrikaner neem vroeg beheer
Die eerste ronde het heeltemal aan Du Plessis behoort. Hy het die middel van die agthoek beheer en stelselmatig sy ritme gevind terwyl Usman versigtig aan die buitekant beweeg het. Die Suid-Afrikaner se regterhand het herhaaldelik sy teiken getref en die voormalige weltergewigkampioen vroeg onder druk geplaas.
Du Plessis het met sterk houe punte aangeteken wanneer Usman probeer nader beweeg het. Die Nigeriër het kortstondig sukses behaal deur digby te probeer stoei en Du Plessis se lyf aan te val, voordat ’n lae hou die geveg tydelik onderbreek het.
Knieë laat Usman wankel
Die tweede ronde was waarskynlik die deurslaggewende een. Toe Usman die afstand verklein om sy stoeivermoë te benut, het Du Plessis hom met ’n knie getref wat die 39-jarige sigbaar seergemaak het.
Die Suid-Afrikaner het daarna ’n reeks houe ingekry, waaronder nog ’n knie, voordat Usman desperaat probeer het om sy teenstander grond toe te sleep. Du Plessis het egter slim beweeg en dit afgeweer.
’n Verwoestende regterteenhou het Usman laat struikel en grond toe gestuur, hoewel hy vinnig herstel het. Toe Usman gedink het hy is met ’n vinger in die oog gesteek, kon ’n weerkyk darem bewys dit is ’n skoon vuis wat hom getref het.
Usman het swaar houe geabsorbeer voordat hy laat in die ronde sy beste oomblik beleef het deur Du Plessis vlugtig grond toe te sleep, maar Du Plessis het vinnig ontsnap.
Momentum verander in die laaste rondes
Die derde ronde was Usman se beste van die aand. Sy regterhoue het skoon getref en Du Plessis kortliks op die grond beheer, hoewel hy nie lank bo kon bly nie.
Die vierde ronde het stadiger verloop, met albei vegters wat minder aanvalle geloods het namate moegheid begin inskop het.
In die vyfde en laaste ronde het Usman alles ingesit. Nadat Du Plessis met ’n knie gemis het en nóg ’n lae hou gelewer het, het die voormalige kampioen vorentoe gestorm.
Hy het verskeie harde regterhoue en kombinasies geland, terwyl Du Plessis se werktempo merkbaar afgeneem het. Tog het die Suid-Afrikaner genoeg gedoen om met punte oortuigend te wen.
