Digitale tegnologie verander speelveld
Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, sê die plan is om alle belangrike dokumentasie, soos ID-kaarte, paspoorte en geboortesertifikate, teen 2029 te digitaliseer en die verkryging daarvan wyer en meer toeganklik te maak.
Nog een van sy span se prioriteite was elektroniese reismagtiging, die Electronic Travel Outeurisation (ETA). Dit het hy twee weke gelede saam met pres. Cyril Ramaphosa by die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park bekend gestel. Met dié nuwe platform vir alle visum- en immigrasie-aansoeke, sal die departement meer beheer hê oor wie die land binnekom – hetsy immigrante of toeriste – en oor hoe lank hulle bly. As jou visum verval, stel die elektroniese stelsel die departement in kennis.
“Ons weet jy is dan op die punt om onwettig in Suid-Afrika te wees. As deel van die ETA-proses is jou selfoonnommer en e-posadres geverifieer. Ons weet omtrent alles van jou, en laat weet jou dan.”
Die elektroniese magtiging sal hopelik ook meer toeriste na die land lok. In lande soos China kon toeriste tot dusver net by twee plekke in die land in persoon gaan aansoek doen om visums om Suid-Afrika te besoek. Nou kan ’n toeris binne ’n uur ’n visum kry. Digitale tegnologie maak dit ook baie moeiliker vir besoekers om die land met ’n vervalste paspoort binne te kom – 40 eienskappe van ’n paspoort word binne sekondes deur tegnologie nagegaan om die egtheid te bepaal. Uiteindelik, sê Schreiber, wil hy en sy span ’n stelsel skep wat mense van alle vorige nagmerries met binnelandse sake kan laat vergeet.
- Lees die volledige artikel in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
