Met geweldsmisdaad, bendebedrywighede en geslagsgeweld wat steeds baie Suid Afrikaners se daaglikse werklikheid is, het pres. Cyril Ramaphosa Vryheidsdag gebruik om te beklemtoon dat ware vryheid nie sonder veiligheid en geregtigheid kan bestaan nie.
By Maandag se nasionale Vryheidsdagvieringe in Bloemfontein het Ramaphosa gesê die beskerming van burgers teen geweld en misdaad bly sentraal tot die verdieping van Suid Afrika se demokrasie.
“Om groter betekenis aan ons vryheid te gee, het ons meer hulpbronne en groter pogings gewy aan die bekamping van georganiseerde misdaad, bendes, geslagsgebaseerde geweld en ander vorme van geweldsmisdaad,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dat waardigheid beteken mense moet “vry van vrees en geweld” kan leef.
In sy toespraak het Ramaphosa gesê die regering is besig om die strafregstelsel te hervorm en te versterk, terwyl korrupsie binne wetstoepassingsinstellings ook geteiken word.
“Ons bou aan ’n polisiediens en ’n vervolgingsgesag waarin mense vertroue en geloof kan hê.”
Die president het dit verbind aan die breër ideaal van vryheid waarvoor Suid Afrikaners in 1994 gestem het, en gesê vryheid is nie bloot politieke regte nie, maar die reg om veilig in gemeenskappe, huise en werkplekke te leef.
Hy het beklemtoon dat die stryd teen misdaad nie net die staat se verantwoordelikheid is nie.
“Ons doen ’n beroep op alle Suid Afrikaners om deel te wees van hierdie werk, om gemeenskappe, huise, skole en werksplekke veilig te maak.”
Hy het gesê die regering bly verbind tot die uitroei van korrupsie, en het gewaarsku dat staatskaping en wanbestuur ook die belofte van vryheid ondermyn.
“Elke rand wat gesteel word, is ’n aanval op ons demokrasie. Elke projek wat nie voltooi word nie, is ’n verraad teenoor ’n gemeenskap.”
Ramaphosa het ook weer sterk standpunt ingeneem teen geslagsgebaseerde geweld en gesê geen samelewing kan waarlik vry wees terwyl vroue en kinders in vrees leef nie.
“Ons het mans nodig wat beskermers van vroue is, nie oortreders nie,” het hy gesê.
Met Suid Afrika wat 32 jaar van demokrasie vier, het Ramaphosa aangevoer dat die verdieping van vryheid ook beteken om wet en orde te versterk en gemeenskappe veiliger te maak.
“Die vryheid wat ons vandag geniet, moet nie net in ons Grondwet bestaan nie, maar in die daaglikse ervaring van elke burger gevoel word.”
