VRK: Stormers speel net-net gelykop teen Ulster in Ierland

Ulster en die Stormers het 38-elk gelykop gespeel in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap.
Ulster en die Stormers het 38-elk gelykop gespeel in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap. Foto: Facebook.

Ná ’n woeste wedstryd met die momentum wat heen en weer geswaai het, kon die Stormers net-net drie punte uit hul kragmeting teen die Ierse Ulster buit.

Die eindtelling was 38 elk, maar dit was ’n strafdrie in die laaste minuut van die wedstryd wat die Stormers gelykop laat speel het.

Met dié drie punte uit die wedstryd, het hulle nou hul eerste plek aan die Glasgow Warriors prysgegee. Dié span het maklik 40-17 met Cardiff (tans in sesde plek op die puntelys) afgereken.

Die Stormers het vyf drieë gedruk teenoor Ulster se ses. Hiermee het die Suid-Afrikaner Werner Kok, wat nou in Ierland rugby speel, ’n driekuns behaal.

Nog ’n Suid-Afrikaner wat deesdae vir Ulster uitdraf, is agsteman Juarno Augustus, wat die speler van die wedstryd was.

Hoewel die Stormers graag hierdie wedstryd sou wou wen om in eerste plek te bly, is dit nie al negatiewe rondom die wedstryd nie. ’n Groter rede vir kommer is egter kaptein Deon Fourie wat al teen die 10de minuut weens ’n kniebesering die veld moes verlaat. Ulster-kaptein Iain Henderson het met sy volle gewig daarop geval by ’n losgemaal.

Die Stormers sal nou volgende Vrydag teen Cardiff in Ierland uitdraf vir hul laaste wedstryd voor die uitkloprondes. Die Stormers is tans tweede op die puntelys, maar sou hulle ná daardie wedstryd in die topvier wees, sal hulle kwarteindstryd met tuisveldvoordeel in Kaapstap gepaardgaan.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie