Kort nadat Nigerië aangekondig het dat hy sy burgers uit Suid-Afrika gaan ontruim, het Ghana dieselfde pad gevolg met planne om 300 van sy landsburgers te verwyder te midde van toenemende betogings teen immigrante.
Ghana-pres. John Mahama het Dinsdag goedkeuring verleen vir die “onmiddellike ontruiming” van burgers in nood wat by die land se ambassade in Pretoria geregistreer het, het minister van buitelandse sake Samuel Okudzeto Ablakwa in ’n plasing op X gesê.
Die stap kom nadat duisende Suid-Afrikaners die strate ingevaar het om massaverwyderings van ongedokumenteerde buitelanders te eis, met betogers wat kommer oor werk, behuising en misdaad as redes aanvoer.
Ghana se ambassade in Suid-Afrika het burgers aangeraai om uiters versigtig te wees en openbare byeenkomste te vermy. Die sending het ook burgers van Ghana aangemoedig om winkels en besighede in Durban te sluit voor ’n betoging wat vir Woensdag geskeduleer was.
President Cyril Ramaphosa het Maandag die betogings afgemaak as “geïsoleerde dade van misdadigheid” wat nie die regering se beleid weerspieël nie. “Suid-Afrika sal migrasie reguleer, ons grense beveilig en ons wette toepas,” het Ramaphosa gesê, terwyl owerhede volhou dat wydverspreide video’s wat glo aanvalle op buitelanders wys, vals is.
