Gifstofvlakke in skulpvis aan Weskus daal uiteindelik

Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf.
Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het vandag bekend gemaak dat die vlakke van paralitiese skulpvistoksien (PST) in mossels en oesters uit die gemoniteerde produksiegebiede van die Saldanhabaai-akwakultuurontwikkelingsone tot onder die regulatiewe veiligheidsperke vir menslike gebruik gedaal het.

Dít kom nadat inwoners en besoekers sedert Mei gemaan is om nie skulpvis van Saldanhabaai en die omliggende kusgebied te oes en te eet nie.

Dié verbod het ook ’n ernstige druk op die oester- en skulpvis bedryf geplaas.

Zolile Nqayi, ’n woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, het gewaarsku dat inwoners en besoekers wat die skulpvis sou eet, ernstig siek binne minute tot enkele ure ná inname vinnig kon word. “Aanvanklike simptome sluit in tinteling en gevoelloosheid rondom die mond, wat na die arms en bene kan versprei. Dit kan gevolg word deur naarheid, braak, duiseligheid en spier­swakheid. By hoë vlakke van die gif kan hierdie simptome vinnig tot verlies aan koördinasie, probleme met praat en sluk en selfs verlamming vererger.”

Volgens die departement het onlangse monitering bevestig dat die PST-vlakke in mossels en oesters uit die goedgekeurde produksiegebiede nou binne veilige perke is. Dit beteken dat dié skulpvis weer geoes, bemark en deur die publiek geëet kan word.

Nqayi sê haar departement het egter beklemtoon dat die oes en bemarking van die skulpvis steeds onderhewig is om aan die amptelike skulpvismoniterings- en beheerprogram te voldoen.

“Die program word volgens plaaslike en internasionale voedselveiligheidsstandaarde toegepas om verbruikers te beskerm.

“Die departement sal voortgaan om gifstofvlakke in die gebied te monitor en sal die publiek in kennis stel indien toestande verander,” voeg Nqayi by.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie