Grammy-toekennings vandag 67 jaar oud

Grammy-toekennings.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Wat ’n jaar vir musiek was dit nie . . . en boonop is jou gunsteling-liedjies en -kunstenaars met spoggerige Grammy-toekennings beloon!

By dié glansgeleentheid het Domenico Modugno se “Nel Blu Dipinto di Blu (Volare)” pas die toekennings vir opname én liedjie van die jaar ontvang. Die album van die jaar-beeldjie moes natuurlik Henry Mancini vir The Music from Peter Gunn s’n wees en die beste R&B-optrede is heel gepas The Champs s’n vir “Tequila”.

Iets fout? Klink dít nie soos die musiek wat jy deesdae op die Spotify en op YouTube luister nie? En het Kendrick Lamar, SZA, Bad Bunny en Kehlani nié vanjaar Grammy-beeldjies vir dié toekennings gekry nie?

Ja, vandag, 4 Mei, is die heel eerste Grammy-toekennings 67 jaar gelede gehou. Twee seremonies het gelyktydig by die Beverly Hilton-hotel in Beverly Hills, Kalifornië en die Park Sheraton-hotel in New York plaasgevind.

In die eerste aflewering is slegs 22 kategorieë in ag geneem, véél minder as die 96 kategorieë van 2026.

Ander noemenswaardige wenners daardie jaar was The Kingston Trio se “Tom Dooley” vir beste country en westernoptrede, Ella Fitzgerald se Ella Fitzgerald Sings the Irving Berlin Songbook vir beste vokale uitvoering: vroulik en Perry Como vir “Catch a Falling Star” in die manlike kategorie.

Hierdie jaar was dit Chris Stapleton se “Bad as I Used to Be”, Shaboozey en Jelly Roll se “Amen” en Lola Young se “Messy” wat soortgelyke kategorieë gewen het.

En as jy dink Tyler, the Creator se albumfoto vir Chromakopia was treffend, moet jy liefs nie van Frank Sinatra se Frank Sinatra Sings for Only the Lonely, wat heel eerste hierdie toekenning gewen het, vergeet nie.

Gelukkig, juis in die era waar musiek se wyd beskikbaar is, hoef jy nie enige ou plate of CD’s uit ’n stoorkamer op te diep nie. Tik ’n paar kunstenaars van daardie jare in jou gunsteling-musiekstroomdiens in en word oombliklik meegevoer in die musikale wonderwêreld van dekades gelede.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie