Grandi Theunissen los VF Plus

Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder. Foto: Facebook / Grandi Theunissen
Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder. Foto: Deaan Vivier.

Grandi Theunissen, voormalige VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad, het bedank as lid van die VF Plus.

Theunissen het vanoggend in ’n kort interne boodskap aangekondig dat hy sy betrokkenheid by die VF Plus beëindig.

“Ná deeglike oorweging het ek besluit om my betrokkenheid by die party te beëindig. Ek dien hiermee my bedanking in as lid en raadslid van die Vryheidsfront Plus,” het hy gesê.

Sy bedanking kom enkele weke nadat hy as leier van die VF Plus se Tshwane-koukus verwyder is en te midde van toenemende spanning binne die party se Tshwane-strukture.

Enkele ure later het hy langs Cilliers Brink, DA-burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, aangekondig dat hy by die DA gaan aansluit.

Theunissen was ’n prominente figuur in die VF Plus se Tshwane-koukus en het ook ’n sleutelrol in die party se plaaslike verkiesingsveldtog gespeel.

Sy vertrek kan verdere politieke implikasies vir die VF Plus in Tshwane hê, waar die party 17 verkose raadslede het en die metro as ’n belangrike gebied vir die komende munisipale verkiesing beskou.

Uit koukusleierskap verwyder

Die party se uitvoerende dagbestuur het op 3 Augustus besluit dat hy as koukusleier moet uittree. Dr. Corné Mulder, die VF Plus-leier, het gesê die besluit is eenparig geneem ná ’n interne proses en ’n omvattende ondersoek.

Die besluit het gevolg nadat spanning binne die koukus ontstaan het oor onder meer die omstrede Groenkloof-grondkwessie. Die koukus het op 11 Augustus vir Peter Meijer as sy nuwe leier verkies.

LEES | VF Plus se Tshwane-hoës in Grondtwis: Mulder laat kop rol

Theunissen het ná sy verwydering as koukusleier steeds sy posisie as VF Plus-streeksleier in Tshwane behou en was ook op die party se proporsionele kandidatelys vir die munisipale verkiesing.

Die Groenkloof-grondkwessie was volgens Spies en Mulder een van die sentrale meningsverskille. Spies het die koukus se hantering van die saak bevraagteken, terwyl Mulder gesê het dit was “totaal onaanvaarbaar” dat die koukus aanvanklik teen ’n verslag oor die grond gestem het, maar later sy besluit verander het.

  • Hierdie storie is nog tans besig om te ontvou, en nuwe inligting of kommentaar sal bygewerk word indien dit ontvang word.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos