Groot ontevredenheid ná hof tydelike opskorting aan Ramaphosa verleen

Pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa het aangedui dat hy die uitspraak wat Vrydag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gelewer het, respekteer.

Volgens dié uitspraak is sy dringende aansoek toegestaan om die parlementêre artikel 89-staatsaanklagverrigtinge tydelik te verbied en op te skort. Hy het die hof voorts versoek om die verrigtinge op te skort tot waar die hof ‘n afsonderlike hersieningsaansoek afhandel oor die verslag van ‘n onafhanklike paneel rakende die voorval op sy Phala Phala-wildsplaas.

Maar nie almal is gelukkig met die uitspraak nie. Opposiepartye, waaronder uMkhonto weSizwe (MK)-party en die African Transformation Movement (ATM) is van mening dat Vrydag se uitspraak die president net nog verder beskerm teen aanspreeklikheid teenoor die Parlement.

“Hoe kan ‘n laer hof dit omkeer? Dit kom basies neer op die omverwerping van ‘n beslissing van die Grondwetlike Hof. Die Grondwetlike Hof is die hoogste hof; dit is die hoogste gesag wat beslissings in hierdie land neem,” was Andile Mngxitama (MK) se reaksie op die uitspraak.

MK-lid van die parlement David Skosana het aan eNCA gesê hy was nie verbaas oor die uitspraak nie.

‘Ons is nie geskok nie. Alles hang af van wie jy is in hierdie land. Ons is baie teleurgesteld met die uitspraak,” het hy na afloop van die verrigtinge gesê. Maar hy het ook genoem dat daar nog “dieper gedelf” gaan word.

ATM-lid van die parlement Vuyo Sungula staan vas daarby dat die president steeds nog antwoorde verskuldig is. Volgens hom het die hooggeregshof homself weerspreek deur die uitspraak ten gunste van Ramaphosa te lewer. Hy het dit vergelyk met die staatsaanklagverrigtinge teen die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebana.

Mabine Seabe van Rise Mzansi sê vandag se uitspraak sal die sterkte van Suid-Afrika se grondwetlike meganismes toets en voeg by dat Ramaphosa aan die Grondwet gebonde is en dat alle politieke partye die hof se uitkoms moet respekteer.

In ‘n meerderheidsuitspraak het die hof beslis dat die parlementêre artikel 89-staatsaanklagverrigtinge nie met openbare verhore mag voortgaan tot waar die hersieningsaansoek afgehandel is nie.

Volgens Times Live het sou een van die regters die aansoek van die hand gewys het en bevind het dat Ramaphosa nie ‘n saak vir ‘n tussentydse interdik uitgemaak het nie.

Die meerderheid van die drie-regterbank, bestaande uit regters André le Grange, Matthew Francis en Diane Davis, het egter bevind dat die president wel aan die vereistes vir tussentydse regshulp voldoen het en het die interdik vir ‘n beperkte tydperk toegestaan.

Die ontstaan van die komitee

Die komitee is saamgestel nadat die Parlement besluit het om voort te gaan met ‘n ondersoek na bewerings dat Ramaphosa ernstige oortredings van die Grondwet of die reg gepleeg het en hom aan ernstige wangedrag skuldig gemaak het. Die ondersoek spruit voort uit die Phala Phala-sage, waartydens $538 000 (ongeveer R8,8 miljoen) in 2020 van die president se wildsplaas in Limpopo gesteel is.

Die afsettingsproses is aan die gang gesit nadat ‘n onafhanklike paneel, onder voorsitterskap van voormalige hoofregter Sandile Ngcobo, prima facie bevind het dat daar voldoende getuienis bestaan dat Ramaphosa moontlik ernstige oortredings van die Grondwet of die reg gepleeg het. Die paneel het aanbeveel dat die Parlement die aangeleentheid verder ondersoek.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie