Baie sal probeer om ons diversiteit te misbruik en Suid-Afrikaners volgens ras te verdeel . . . ons verwerp daardie pad.
Só het DA se huidige voorsitter, Helen Zille, by die DA se federale kongres Saterdagoggend in Midrand gesê.
Vir Helen Zille is die vriendelike kompetisie tussen verskillende raadslede goed, maar nes provinsiale spanne wat saamstaan wanneer hulle vir die Springbokke of Bafana Bafana speel, is dié kongres ’n getuigskrif van sterker saam is.
“Identiteitspolitiek is aan die toeneem en etnopopulisme floreer wêreldwyd. Geskiedkundiges sal eendag hierdie vraag vra: ‘Hoe het Suid-Afrika, van al die lande, ’n ander koers ingeslaan?’ En die antwoord sal wees: ‘Die Demokratiese Alliansie . . . júlle’.”
Zille glodie DA is die party van insluiting, nie verwerping nie.
“Ons noem onsself die ‘blou mense’. Nie swart, wit of bruin mens nie, maar blou. Blou mense onderskei hulself deur die waardes wat hulle deel.”
Die waardes is: Die oppergesag van die reg, grondwetlike demokrasie, individuele vryheid, menseregte en ’n markgebaseerde ekonomie wat geleenthede skep vir almal.
Zille sê dié beginsels het wêreldwyd in onbruik begin verval, maar dat die DA onverpoos sal veg om dít in Suid-Afrika te behou.
Tog was die DA én Suid-Afrika se pad nie sonder duwweltjies nie. “Ons is ’n nasie wat bly leer, dít het ons sterker gemaak.”
Vir Zille versinnebeeld die federale kongres die DA se waardes dat “blou mense” dinge anders doen. Hulle ding openlik en regverdig mee, verkies leiers vreedsaam en debatteer beleid te goeder trou.
“Ons glo in ’n nasie wat nie deur ras nie, maar deur beginsels gedefinieer word,” het Zille verduidelik.
“Ons kultuur lê in ons waardes,” het sy gesê.
