Hof verklaar munisipale hoof finansiële beampte se aanstelling onwettig

Hofsaak.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die Vrystaatse hooggeregshof het bevind dat die aanstelling van Amos Makoae as hoof finansiële beampte van Masilonyana-plaaslike munisipaliteit onwettig was.

Makoae is in Oktober 2023 deur die raad aangestel, ondanks dat hy tydens sy onderhoud melding gemaak het van dissiplinêre stappe wat teen hom geneem is by sy vorige pos by Mafube-plaaslike munisipaliteit.

Hierdie inligting en sy dissiplinêre geskiedenis is egter nie aan raadslede bekend gemaak toe sy aanstelling vir goedkeuring voorgelê is nie. Makoae is skuldig bevind aan verskeie gevalle van finansiële wangedrag.

LEES | LUR kry bloedneus met appèlaansoek teen Nama Khoi-munisipaliteit

Die raad het ook ’n opdrag van die Vrystaatse MER vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, verontagsaam om die aanstelling as nietig te verklaar.

Willem Potgieter, VF Plus-raadslid by Masilonyana-plaaslike munisipaliteit, het gesê hulle het druk geplaas in die raad en provinsiale wetgewer om die aanstelling onwettig te laat verklaar.

“Die gesloer met die hofbevel kon voorkom geword het indien die raad sy besluit teruggetrek het,” het Potgieter gesê.

Hy het gesê inwoners van die munisipaliteit, wat reeds gebuk gaan onder swak dienslewering, is nou weer die slagoffers van wanbestuur.

Masilonyana-plaaslike munisipaliteit dien Theunissen, Brandfort, Winburg en Verkeerdevlei.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie