Hier is die hoofnuus wat vandag, 23 Junie, gebeur het. Dié artikel bevat die vernaamste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
- ’n Skerp styging in brandstofpryse het Suid-Afrikaanse verbruikersvertroue ’n groot knou toegedien, met die jongste Verbruikersvertroue-indeks van die Buro vir Ekonomiese Navorsing en FNB wat in die 2de kwartaal van 2026 tot -19 gedaal het.
- Janitha van Reenen, wat daarvan beskuldig word dat sy die sukkelende Emfuleni-munisipaliteit met meer as R400 000 bedrieg het, het vlugtig in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn en beoog om ’n nuwe borgtogaansoek op grond van nuwe feite in te dien.
- Polisie in KZN ondersoek ’n moordsaak ná ’n Malawiese burger (29) glo Vrydag tydens ’n optog teen onwettige immigrante by die Jika Joe-informele nedersetting in Pietermaritzburg met klippe doodgegooi is, terwyl nog twee mense beseer is.
- Die Johannesburgse hooggeregshof sal na verwagting AfriForum se dringende aansoek aanhoor om die Stad Johannesburg se omstrede watertariefverhoging van 65,6% te hersien, met die organisasie wat aanvoer dat inwoners wesenlik benadeel sal word indien die verhoging op 1 Julie in werking tree.
- Die DA het hul stemme by die gevoeg wat die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, daarvan beskuldig dat sy die ANC bevoordeel deur nie president Cyril Ramaphosa se pogings om die werk van die Parlement se staat van beskuldiging-komitee te stuit, teen te staan nie.

- Die Madlanga-kommissie het gehoor dat Vusumuzi ‘Cat’ Matlala geld aan die geskorste adjunkhoof van die EMPD, Julius Mkhwanazi, gestuur het, en daar word vermoed dat die betalings vergoeding was vir gunste wat Mkhwanazi aan Matlala bewys het.
- Meer as ’n jaar nadat die voormalige Zambiese president Edgar Lungu gesterf het, is hy steeds nie begrawe nie weens ‘n regstryd tussen sy familie en die regering oor sy finale rusplek, met ’n beslissing oor die begrafnisplek wat na verwagting vandag gemaak sal word.
- R3 000-borg vir 2 Paarlse klubrugbyspelers wat teregstaan op aanklagte van verkragting, Wellington-landdroshof bevind buitengewone omstandighede regverdig vrylating.
- ’n Brand het Maandagaand in Durban se hawe uitgebreek, gerugte van ‘n harde slag wat dit voorafgegaan het.
Oorsee
- VSA-pres. Donald Trump sê enige Iranse fondse wat deur sanksieverligting of deur die Amerikaanse tesourie vrygestel word, sal in ’n Washington-beheerde trustrekening geplaas word, waaruit Teheran geld kan gebruik om Amerikaanse voedsel en mediese voorrade aan te koop.
- Trump sê ook Iran het ingestem tot die ‘hoogste vlak’ van internasionale inspeksies van sy kernprogram, in wat hy beskryf het as ’n belangrike stap in pogings om die land se kernaktiwiteite te monitor en verdere spanning met Washington te verminder.

- Iran se minister van buitelandse sake, Abbas Araghchi, het in Islamabad aangekom, terwyl president Masoud Pezeshkian ook na Pakistan gereis het, wat as bemiddelaar in gesprekke tussen Teheran en Washington optree.
- Andy Burnham, wat na verwagting Brittanje se volgende eerste minister sal word ná Keir Starmer se bedanking, het probeer om beleggers gerus te stel wat bekommerd is dat staatsbesteding en skuld onder sy leierskap kan toeneem.
- Dodetal vanweë hittegolf in Frankryk staan nou op minstens 18, waaronder 2 kinders wat in warm motor gelos is en 40 mense het glo verdrink
- Italië se departement van gesondheid het Dinsdag ’n rooi hittegolfwaarskuwing in 15 stede, insluitend Milaan en Rome, verklaar en mense aangeraai om gedurende die warmste dele van die dag binne te bly.
- Lionel Messi (38) breek Marta Vieira se Wêreldbeker-doelrekord van 17 doele met sy 18de Wêreldbeker-doel toe Argentinië vir Oostenryk 2-0 klop
- Algerië veg verbete terug vir eerste Wêreldbeker-oorwinning sedert 2014 deur Jordanië met 2-1 te klop.
- Nota aan media beweer Nancy Guthrie (84) het kort ná haar ontvoering 5 maande gelede gesterf, ondersoek duur voort.
- Ontwerpers van KI-stelsels wat beelde van seksuele misbruik van kinders kan skep, kan tronkstraf in die gesig staar ingevolge strenger EU-regulasies.
