Springbok-hulpafrigter Daan Human het skeidsregter Angus Gardner se hantering van die skrum tydens die tweede toets teen die All Blacks verdedig en gesê hy meen die Australiër was “baie konsekwent” met sy beslissings.
Met die skrum wat dié week die middelpunt van mediabelangstelling is nadat die All Blacks oor die Springbokke se tegniek in Kaapstad gekla het, het Human geweier om hom te laat meesleur deur voorstelle dat Suid-Afrika gefrustreerd was oor die manier waarop die vaste faset beoordeel is.
“Skeidsregters moet verstaan wat in die skrum gebeur en hulle het almal baie ervaring,” het Human gesê.
“Ek het eintlik gedink Angus Gardner was verlede Saterdag baie konsekwent in sy besluite. Wat hy teen ons geblaas het, het hy teen hulle ook geblaas. Dit was dieselfde storie.
“Ek het respek vir hom en ek gaan nie sy besluite bevraagteken nie, maar dit is nou iets van die verlede. Hierdie naweek moet ons aanpas by hoe die nuwe skeidsregter dit sien, en as hy vir ons sê ons moet iets regstel, sal ons dit regstel. Maar ek glo opreg nie Angus het anders geblaas as wat hy normaalweg doen nie.”

Human sien nou uit na ’n heel ander atmosfeer wanneer die Springbokke Saterdag die All Blacks op die FNB-stadion in Johannesburg aandurf, met die span wat ’n skare van tussen 80 000 en 90 000 passievolle ondersteuners verwag.
“Dit gaan ’n ongelooflike ervaring wees,” het Human gesê.
“Daar was meer as 56 000 mense by verlede week se toets in Kaapstad en ons kan hierdie week tussen 80 000 en 90 000 mense by die stadion hê, so ons kan net dink hoe ongelooflik dit gaan wees.
“Maar maak nie saak waar ons speel nie, of dit nou in Verkeerdevlei is, waar ek boer, of op die FNB-stadion, ons weet wat ons moet doen. Om soveel mense agter jou te hê, gee jou energie en help jou om die oomblik te geniet.
“Suid-Afrika het ongelooflike ondersteuning en ons wil nie ons ondersteuners teleurstel nie. Hulle staan bankvas agter ons, en ons wil graag iets aan hulle teruggee.”
