Hongarye-uitslag: Europa sug van verligting

Voormalige eerste minister van Hongarye, Viktor Orbán, saam met die VSA-visepresident, JD Vance.
Voormalige eerste minister van Hongarye, Viktor Orbán, saam met die VSA-visepresident, JD Vance. Foto: Facebook.

Wêreldpolitiek het lanklaas só vreemd en onvoorspelbaar gevoel.

Vir 16 jaar was Viktor Orbán, vertroueling van beide VSA-pres. Donald Trump en Rusland-leier Wladimir Poetin, die nasionalistiese premier van Hongarye. Min mense sou dus vooraf kon bepaal dat hy nou die verkiesing in Hongarye sou verloor . . . én dit boonop met ’n tweederdemeerderheid.

Volgens Al Jazeera sal Péter Magyar (45) se oorwinning ’n slaak van verligting meebring by ander Europese leiers waar Orbán dikwels die Europese Unie se hulp aan die Oekraïne moeiliker gemaak het. Magyar as eerste minister sal waarskynlik ’n einde beteken aan Hongarye se konfronterende rol binne die EU, en moontlik die weg baan vir ’n lening van 90 miljard euro (sowat R1,7 triljoen) aan die oorloggeteisterde Oekraïne, wat deur Orbán geblok is, sê Al Jazeera.

Orbán het sy nederlaag aanvaar en die verkiesing as “pynlik”, maar “beduidend” beskryf, sê CNN.

“Magyar se veldtog het aanspraak gemaak om korrupsie hok te slaan, maar ook op binnelandse kwessies, van Hongarye se stagnerende ekonomie tot sy swak gesondheidsorg,” sê CNN.

Daarteenoor het Orbán stemme probeer werf deur vrees aan te blaas dat Hongarye by die oorlog in Oekraïne ingetrek kan word.

“Magyar het aan ’n juigende skare ondersteuners gesê dat hulle saam ‘Hongarye bevry het’ van die Orbán-bewind,” sê CNN.

Volgens BBC het Magyar se Tisza-party 138 van die 199 setels in parlement gewen, met se Fidesz-party wat slegs 55 setels en die verregse Our Homeland wat slegs 6 setels kon kry.

Dié meerderheid sal Magyar die mag gee om Orbán se beleidsprogramme in die kiem te smoor en Hongarye se beeld in veral die EU te verander.

Dit is die meeste mense ooit wat in Hongarye in ’n verkiesing gestem het. Ten spyte van die loesing het Orbán nie ná die uitslag as hoof van sy party bedank nie. In ’n laaste desperate pogging om Orbán te help, het vise-pres. JD Vance van Amerika na Hongarye gereis om tot steun van hom op te tree.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie