Tuisveldvoordeel, ’n Varsitybekerrekord wat skrik vir niks en ’n span wat gereeld oortuigende seges hierdie seisoen ingeryg het . . .
Dít is van die bestanddele wat dié Tuks-span in Maandagaand se eindstryd-oorwinning oor die NWU Arende gebruik het om vir ’n sesde keer die beker te lig.
Dit was ’n ietwat slordige eindstryd, maar ná ’n stadige begin het Tuks eindelik momentum begin kry deur die spel in reënerige toestande te oorheers.
Ten spyte van die reën was die Arende van die begin af bereid om met di ebal te hardloop en het hulle voordeel getrek deur verskeie kere deur hul opponente se verdedigingslyn te breek. Die vasberade verdediging van Tuks was egter tekenend van hul werksetiek om te verseker dat dié oorwinning nie deur hul vingers glip nie.
Die wedstryd het gedurende die eerste 15 minute heen en weer geswaai, met albei spanne wat kanse op die aanval gehad het, maar dikwels deur hanteerfoute of swak dissipline gefnuik is.
Ná beide spanne strafskoppe deur die pale gestuur het, is die eerste drie van die wedstryd in die 32ste minuut gedruk. Dié strafdrie vir Tuks was die laaste punte van die eerste helfte en die rustydtelling was dus 10-3.
’n Drie deur Andile Myeni en hake Jean Fourie het teen die 50ste minuut die telling tot 22-3 gebring.
Daardie voorsprong het vier minute later tot 25-3 gegroei toe Du Toit ’n strafskop van 50 meter oorgeklits het.
Die Arende het alles probeer om terug te veg, maar Tuks se rotsvaste verdediging en verdere hanteerfoute het die besoekers in die laaste kwart gekniehalter.
Nóg twee strafskoppe deur Du Toit het Tuks se voorsprong tot 31-3 uitgebrei en ’n welverdiende oorwinning vir die tuisspan beklink.
Puntmakers:
Tuks: 31 (10)
Drieë: Strafdrie, Andile Myeni, Jean Fourie
Strafskoppe: Divan du Toit (3)
NWU Eagles: 3 (3)
Strafskop: MJ Mostert
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
