Jongste verwikkelinge: Straat van Hormoes bly politieke klimtol terwyl aanvalle op buurlande reën

Vaartuie in die Straat van Hormoes, naby die kusstad Khasab in Oman se noordelike Musandam-skier­eiland. Foto: AFP
Vaartuie in die Straat van Hormoes, naby die kusstad Khasab in Oman se noordelike Musandam-skier­eiland. Foto: AFP

Iran het Sondag aangekondig dat hy die Straat van Hormoes weer sluit en aanvalle op buurlande in die Golfstreek uitgevoer het as vergelding vir Amerikaanse lugaanvalle. Dit ondermyn verdere pogings om vrede in die Midde-Ooste te herstel.

Hier is die jongste verwikkelinge

Iranse soldaat dood

‘n Luitenant van die Iranse vloot het volgens die Mehr- en Tasnim-nuusagentskappe in die hawe van Jask in suidelike Iran gesterf nadat Amerikaanse lugaanvalle oornag die gebied geteister het.

‘Gevaarlike eskalasie’

Katar het die Iranse aanvalle op sy grondgebied en dié van sy buurlande “ten sterkste” veroordeel en dit as ‘n “gevaarlike eskalasie” beskryf nadat drie mense in dié land beseer is.

Hormoes ‘belangriker’ as atoombomme

‘n Adviseur van Iran se opperleier het gesê die Straat van Hormoes belangriker is as “dosyne atoombomme”.

“Hierdie strategiese deurvaart is belangriker as dosyne atoombomme, en die Islamitiese Republiek van Iran sal dit beskerm,” het Mohsen Rezaee volgens die ISNA-nuusagentskap gesê.

Westerse lande beskuldig Iran daarvan dat hy kernwapens wil ontwikkel, maar Teheran hou vol sy kernprogram is uitsluitlik vir vreedsame burgerlike doeleindes.

Trump boaan die lys van teikens

‘n Konserwatiewe Iranse koerant wat vir sy uitdagende toon bekend is, het ‘n lys van Westerse leiers en senior amptenare gepubliseer wat glo as wraak vir die dood van opperleier Ali Khamenei geteiken moet word.

Die lys, wat op die webwerf van die koerant Hamshahri verskyn het, sluit die Amerikaanse president Donald Trump, die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu, die Britse eerste minister Keir Starmer en die Amerikaanse minister van verdediging Pete Hegseth in.

Indiër steeds vermis

Indië het gesê tien van sy burgers is gered, terwyl een steeds vermis word ná ‘n aanval vroeg Sondag op ‘n vaartuig aan die kus van Oman, waarvoor die Verenigde State Iran verantwoordelik hou.

Die Britse maritieme agentskap UKMTO het vroeër gesê die bemanning het die skip verlaat en na ‘n reddingsboot gevlug.

Iran praat van ‘waarskuwingskote’

Iran se Revolusionêre Garde het vroeër gesê hulle het ‘n vaartuig in die Straat van Hormoes gestuit nadat dit herhaalde opdragte om ‘n goedgekeurde roete te volg, geïgnoreer het. Volgens hulle was die skote slegs “waarskuwingskote”.

Die Amerikaanse Sentrale Bevel (CENTCOM) het gesê die vaartuig is deur brand en skade aan die enjinkamer buite werking gestel.

Missiele tref Jordanië

Jordanië se weermag het gesê drie Iranse missiele het op verskeie plekke in die land geval, maar geen beserings is aangemeld nie.

Pakistan vra vir selfbeheersing

Pakistan se minister van buitelandse sake het tydens ‘n telefoongesprek met sy Iranse ampsgenoot gevra vir de-eskalasie en dat alle partye selfbeheersing aan die dag lê, het die ministerie gesê.

Koeweit aangeval

Koeweit se weermag het gesê sy lugverdedigingstelsels onderskep missiele en hommeltuie wat die land teiken as deel van aanvalle regoor die Golfstreek.

Tweede vaartuig getref

Iran se Revolusionêre Garde het aangekondig dat hulle ‘n tweede vaartuig in die Straat van Hormoes aangeval het. Die staatsuitsaaier IRIB het ook berig dat ‘n Amerikaanse militêre basis in Katar aangeval is.

Amerikaanse fasiliteite in Oman getref

Die Revolusionêre Garde het beweer hulle het ook logistieke ondersteuningsentrums vir vlootvaartuie en brandstofgeriewe vir Amerikaanse vliegdekskepe by die hawe van Duqm in Oman vernietig.

Die Oman-nuusagentskap het op X gesê: “Die Sultanaat van Oman bevestig sy skerp veroordeling en afkeuring van hierdie aanval,” wat plaasgevind het enkele ure nadat Oman Iran se minister van buitelandse sake ontvang het vir samesprekings oor veiligheid in die Straat van Hormoes.

VSA tref 140 teikens

CENTCOM het gesê die Amerikaanse weermag het Saterdag ongeveer 140 teikens in Iran aangeval as vergelding vir Teheran se aanval op ‘n handelsvaartuig in die Straat van Hormoes.

Die teikens het missiel- en hommeltuigbasisse, vlootvermoëns, ammunisiebergplekke, kommunikasienetwerke en kuswaarnemingsposte ingesluit.

VAE en Bahrein onder aanval

Lugaanvalsirenes het in Bahrein afgegaan, terwyl die Verenigde Arabiese Emirate se ministerie van verdediging gesê het lugverdedigingstelsels onderskep missiel- en hommeltuigaanvalle.

Iran sal ‘die prys betaal’

“Iran het ‘n swak besluit geneem. Nou gaan hulle die prys betaal,” het die Amerikaanse minister van verdediging, Pete Hegseth, gesê ná Iran se aanvalle in die Straat van Hormoes.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie