Junior Bokke net een oorwinning van wêreldtitel ná sege oor Engeland

Kebotile Maake het drie drieë gedruk in die Junior Bokke se halfeindstrydsege oor Engeland.
Kebotile Maake het drie drieë gedruk in die Junior Bokke se halfeindstrydsege oor Engeland. Foto: SA Rugby.

Yaqeen Ahmed en Luan Giliomee was die uitblinkers vir die Junior Springbokke toe hulle Maandagaand met ’n oorwinning van 53-37 oor Engeland in Georgië na die eindstryd van die o. 20-Wêreldkampioenskap deurgedring het.

Suid-Afrika is gehelp deur ’n rooi kaart wat laat in die eerste helfte aan die Engelse voorspeler Seb Kelly gewys is.

Soos in die grootste deel van die toernooi, het die Junior Bokke stadig begin, met Engeland wat vroeg die meeste balbesit geniet het.

Dit het gelei tot die eerste drie deur stut Ollie Streeter, wat ná ’n vinnige strafskop naby die Suid-Afrikaanse doellyn oorgeduik het om Engeland met 7-0 te laat voorloop.

Die Junior Bokke het egter geleidelik hul pad terug in die wedstryd gevind en met verskeie dryfbewegings gewys wat Engeland vir die res van die wedstryd te wagte kon wees.

Die Junior Bokke het die Engelse in die o. 20-Wêreldkampioenskap-halfeindstryd geklop.
Die Junior Bokke het die Engelse in die o. 20-Wêreldkampioenskap-halfeindstryd geklop. Foto: Facebook.

Toe Engeland een van dié dryfbewegings vroeg kon stuit, is die bal wyd gespeel. Ethan Adams het deur ’n Engelse verdediger gebreek voordat hy na Ahmed aangegee het, wat oorgeduik het om die telling in die 11de minuut gelyk te maak op 7-7.

Die Junior Bokke het daarna verskeie aanvalskanse geskep, maar los aangeë en hanteerfoute het hul momentum gebreek. ’n Strafskop deur Hugh Shields het Engeland in die 18de minuut met 10-7 laat voorloop, waarna die losskakel in die 30ste minuut ook ’n verdoelde drie gedruk het om die voorsprong na 17-7 uit te brei.

In die 32ste minuut het Kelly egter met ’n kopstamp op Giliomee sy span duur te staan gekom. Die skeidsregter het geen ander keuse gehad as om hom met ’n rooi kaart van die veld te stuur nie.

Die Junior Bokke het Engeland se voorsprong in die 34ste minuut tot 17-12 verklein toe Ahmed se akkurate dwarsskop vir Khuthadzo Rasivhaga oop op die linkervleuel gevind het vir ’n uitstekende drie.

’n Strafskop deur Shields het Engeland egter met ’n voorsprong van 20-12 rustyd toe gestuur.

Suid-Afrika het net twee minute ná rustyd weer toegeslaan toe Giliomee deurgebreek en Rasivhaga vir sy tweede drie van die wedstryd weggestuur het om die agterstand tot 20-19 te verklein.

Vyf minute later was Giliomee weer betrokke toe hy Kebotile Maake in die linkerhoek weggestuur het om die Junior Bokke met 24-20 voor te laat loop.

Met die Suid-Afrikaners nou stewig in beheer het verdere drieë deur Maake, Rasivhaga en Luke Cannon gevolg, terwyl Ahmed twee strafskoppe oorgeklits het.

Giliomee is egter later met ’n geelkaart van die veld gestuur nadat hy ’n Engelse speler omgekeer het terwyl hy om ’n hoë bal meegeding het.

Die kaart is ná ’n hersiening na ’n rooi kaart (20-minute) opgegradeer.

Jonny Weimann, Tate Williams en Shields het in die tweede helfte ook drieë vir Engeland gedruk, want die Engelse het nooit tou opgegooi nie.

Die Junior Bokke pak nou Frankryk in Saterdag se eindstryd nadat die Franse Nieu-Seeland met 26-22 geklop het.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie