Dit sou altyd ’n titaniese stryd wees.
Vir Frankryk sou dit die vierde keer wees wat hulle die gesogte o. 20-Wêreldkampioenskap wen. Vir die Junior Bokke sou ’n wen in Tbilisi, Georgië, hul derde titel beteken én die eerste keer om die beker as verdedigende wenners weer omhoog te hou.
Maar die Junior Bokke kon eindelik genoeg doen om die Franse met 16-5 te klop.
Die Franse het die eerste helfte met hul kenmerkende flair begin: Sterk lopies is met vinnige en indrukwekkende hantering van die bal afgewissel.
Tog het die deurlopende reën vir talle hanteerfoute van beide spanne gesorg.
Gewoonlik sal ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan nie omgee om só baie neer te sak vir ’n skrum nie, maar hulle sal werklik hul kanse berou waar hanteerfoute hul momentum gepootjie het . . . veral in Frankryk se kwartgebied.
Tog het die eerste geleentheid vir punte homself voorgedoen in die agtste minuut. Losskakel Yaqeen Ahmed kon die bal sekuur deur die pale skop vir drie punte ná die voorspelers ’n strafskop van ’n skrum gewen het.
Hoewel die senterpaar Ethan Adams en Markus Muller die bal ’n paar keer sterk gedra het, en beide SA vleuels gevaarlik met blitslopies gelyk het, het die Junior Bokke gereeld besit afgestaan.
Dit is veral hier waar die Franse die Junior Bokke swaar kon straf met hul skopwerk. Die Franse se skopstrategie het gereeld beter as die Junior Bokke s’n gewerk, met die Suid-Afrikaners wat dikwels ver teruggejaag is as hulle foute in Frankryk se helfte van die veld gemaak het.
Die Franse losskakel Luka Keletaona was klopdisselboom.
Laat in die eerste helfte het die Franse, nes aan die begin van die wedstryd, hul beste kanse op punte gehad. ’n Kortarm-strafskop teen kaptein Siphosethu Mnebelele by die lynstaan het ’n paar lopies later uiteindelik ’n moontlike drie vir die Franse slot Romeo Bonnard Martin in die 36ste minuut beteken.
Met insae van die TV-skeidsregter is daar egter heel gepas beslis dat Keletaona van ’n onkantposisie ’n teenstander gekeer het om vir Martin te stuit.
Enkel minute later het Ahmed nog ’n strafskop, van sowat 50 m af, deurgeklits om die halftydtelling 6-0 in die Junior Bokke se guns te maak.
Die Franse het hul gevaarlike aanvallende spel in die eerste vyf minute van die tweede helfte voorgesit deur aan die linkerkant van die veld met vinnige hanteerwerk tot by SA se doellyn te hardloop.
Drie fases later is die bal regs begin slinger om eindelik vir flank Raphael Audebert oor te stuur vir die eerste drie van die wedstryd. ’n Verbroude skop het egter verseker dat SA steeds met 6-5 voorloop.
Dit het gelyk of die Junior Bokke eindelik in die 56ste minuut hul voorsprong kon strek toe vleuel Khuthadzo Rasivhaga die bal in die lug kon najaag om plaasvervanger Samuel Badenhorst die geleentheid te gee om agter die doellyn te gaan kuier.
Ongelukkig het Rasivhaga die bal aangeslaan en het ’n moontlike voorsprong in die niet verdwyn.
In die 66ste minuut, ná ’n reeks strafskoppe teen die Franse, kon Markus Muller eindelik ná ’n lynstaan ’n verdoelde drie druk om die telling 13-5 te maak.
In die 72ste minuut het ’n eenvoudige skerbeweging tussen Alzeadon Felix en Cheswill Jooste die laasgenoemde oor die doellyn laat duik sonder dat ’n Franse verdediger aan hom kon raak. Dié drie is egter ook met behulp van die TV-skeidsregter teruggetrek.
Minute later het Ahmed deur die verdedigingslyn gebreek en ’n paar fases later dieselfde gedoen om ’n drie te druk. Ook dié drie is ongeldig verklaar.
Ahmed kon egter die voordeel gebruik van ’n strafskop om die telling tot 16-5 te strek, wat uiteindelik die eindtelling sou wees.
