‘Wêreld gaan beste Stillknocks nóg sien’

Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis.
Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis. Foto: Jeff Bottari, Getty Images.

’n Oorwinning in Sondagoggend se Ultimate Fighting Champion­ship Fight Night-hoofgeveg is Dricus du Plessis se pad terug na die UFC-middelgewigtitel.

Dit sal die Pretorianer se eerste verskyning in 332 dae in die agthoek wees nadat hy verlede Augustus sy titel teen die Rus Khamzat Chimaev in Chicago in ’n eenparige beslissing afgestaan het.

Die “Nigeriese Nagmerrie”, Kamaru Usman, is ’n voormalige weltergewig-kampioen en skuif op in gewigsklas vir dié geveg in Oklahoma. Usman word tot nou as een van die beste weltergewig-­vegters van alle tye beskou.

Stillknocks, soos Du Plessis bekendstaan, en sy afrigter, Morné Visser, het sy tegniek van voor af verfyn en aangepas om nie weer in dieselfde strik te trap nie.

Du Plessis is een van die grootste en mees gevreesde vegters in sy afdeling en min kan saam met hom staan en houe ruil.

Chimaev het Du Plessis egter deurgaans in hul geveg platge­trek en gestoei. Du Plessis het geen antwoord vir die Rus se puik tegniek gehad nie.

Dricus du  Plessis verlede jaar in aksie in Chicago, Illinois.
Dricus du  Plessis verlede jaar in aksie in Chicago, Illinois. Foto: AFP.

Visser het in ’n onderhoud op Fight Forecast se YouTube-­kanaal gesê hulle het omtrent ’n jaar gehad om sake reg te stel nadat hulle kleigetrap het. “Ons het ’n klomp veranderings aan ons mondering aangebring. Ons het ’n punt om te bewys. Usman is ’n goeie vegter.

“Hy gaan egter ’n groot fout begaan as hy dieselfde roete in sy vegplan as Chimaev beplan.”

Du Plessis is gefokus en reg om sy naam in ere te herstel.

“Ek het in my agt-weke-oefenkamp my alles gegee. Ons het alles gedoen wat ons moontlik kon.

“Ek is deeglik voorberei. Die naweek gaan die wêreld die beste Stillknocks-weergawe tot nog toe sien.”

Usman het 21 ­oorwinnings en vier nederlae in sy MMA-­beroepsrekord.

Du Plessis spog met 23 wenne en drie nederlae.

  • Die uitsending begin reeds Sondagoggend om 02:00, maar die hoofgeveg sal eers later, omstreeks 05:00, begin.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie