Kaapse inwoners gewaarsku teen booswigte wat hulself as munisipale werkers voordoen

Die Goodwood-polisie het inwoners van Monte Vista en omliggende gebiede versoek om diensverskaffers se identiteit te bevestig met hul maatskappye of die Stad Kaapstad.
Die Goodwood-polisie het inwoners van Monte Vista en omliggende gebiede versoek om diensverskaffers se identiteit te bevestig met hul maatskappye of die Stad Kaapstad.

Inwoners van Monte Vista en omliggende gebiede in Kaapstad is onlangs weer daaraan herinner om waaksaam te wees en ten alle tye diensverskaffers se identiteit te verifieer, voordat hulle enigeen op hul perseel toelaat. Dié waarskuwing volg ná nog ’n voorval waarin ’n groep verdagtes hulself glo as munisipale werkers voorgedoen het om sodoende toegang tot ’n inwoner se huis te bekom.

Niemand is in die voorval, wat op Donderdag 6 Augustus plaasgevind het, beseer nie, lui ’n inskrywing op die plaaslike buurtwag se sosialemedia-blad, maar so ’n traumatiese voorval gaan die gesin nog lank bybly, noem hulle.

Die Monte Vista, Plattekloof Glen-buurtwag het inwoners aangemoedig om nie toe te laat dat mense hul huise of eiendom betree sonder dat hulle hul identiteit met die munisipaliteit bevestig het nie.

Die Goodwood-polisie het ook die betrokke dag spoedig op die noodoproep gereageer.

Kol. Shawn van Wyk, stasiebevelvoerder, het onlangs aan TygerBurger, ’n susterpublikasie van Die Papier, bevestig dat hulle sulke voorvalle ervaar het.

Hy het ’n waarskuwing aan inwoners gerig om waaksaam te wees aangesien verdagtes voorgee dat hulle beamptes van die Stad Kaapstad is en dat hulle daar is om inspeksie uit te voer, maar dat hulle die inwoners van hul elektroniese besittings beroof sodra hulle binnegaan.

Van Wyk vra dat inwoners liefs die polisie moet kontak in so ’n geval. Hy sê in een van die voorvalle is ’n huiseienaar met ’n vuurwapen gedreig.

Deon Oosthuizen, adjunk-voorsitter van die Monte Vista, Plattekloof Glen-buurtwag, sê mense moet ’n gewoonte daarvan maak om inligting te verifieer voordat hulle iemand oor hul veiligheidsgrens toelaat, en dat mense nie net moet aanvaar dat iemand van die Stad Kaapstad is nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos