In ’n eenvoudige, tydelike werkswinkel diep in die oorvol Nuseirat-vlugtelingkamp in sentrale Gaza-strook weerklink daar die sagte klank van ’n oed, wat algemeen as die “koning van musiekinstrumente” in Arabiese musiek beskou word, tussen die puin van oorlog.
Omring deur houtpalette, oorblyfsels van kratte wat eens humanitêre hulp bevat het en dele van beskadigde musiekinstrumente, buig Suhail Abu Shawish (60) versigtig oor ’n gehawende oed terwyl hy die snare stem ná dae se noukeurige herstelwerk.
Dié kosbare instrument – beskadig deur die verwoesting tydens die oorlog in Gaza – is een van vele wat hul pad na sy nederige werkswinkel gevind het.
“Jong mense begin hul instrumente na my bring om herstel te word,” het Abu Shawish aan AFP gesê, terwyl ’n klant sy werkswinkel binnegestap het met nog meer beskadigde instrumente wat in swart plastieksakke toegedraai was.
Verskeie gerestoureerde instrumente, blink gepoleer, hang aan die werkswinkel se mure – simbole van veerkragtigheid, musiek en vakmanskap te midde van oorlog. Abu Shawish is tydens die oorlog is hy na die suidelike stad Rafah verplaas voordat hy uiteindelik weer na sy huis in die Nuseirat-vlugtelingkamp teruggekeer het.
Vir hom is die herstel van oede veel meer as net ’n beroep. Hy beskou dit as ’n missie om ’n kosbare deel van die Palestynse kulturele identiteit te bewaar in ’n tyd waarin soveel ander verlore gegaan het.
Die pa van vyf het in die 1980’s leer oed speel. Later het hy by verskeie instellings gewerk, waar hy ’n kenner in die bewaring en restourasie van musiekinstrumente geword het.
Die gebrek aan ’n behoorlike werkswinkel, ’n skaarste aan materiale en gereelde kragonderbrekings dra daartoe by dat Abu Shawish vandag feitlik uitsluitlik van handgereedskap gebruik maak.
Hy saag die hout met die hand, maak oppervlaktes glad met ’n vyl en plak gebreekte stukke sorgvuldig weer aanmekaar – selfs stukke wat baie mense as onherstelbaar sou beskou.
“Ondanks die tekort aan hout en die hoë pryse daarvan, kom mense steeds na my toe,” het Abu Shawish gesê. “Die swaarkry van die oorlog keer ons nie om met ons werk voort te gaan nie,” sê die gryskop-musikant, geklee in ’n blou hemp en jeans.
Vir hom is elke instrument wat herstel word ’n klein oorwinning oor die verwoesting rondom hom.
“Ek hou daarvan om oede te koop, en ek speel ook self die oed,” het hy gesê.
‘Gemaak in Gaza’
Klante kom na hom in die hoop dat hy die warm, kenmerkende klank kan herstel wat al eeue lank deur die Arabiese kultuur weerklink. Maar die uitdagings waarmee hy te kampe het, is egter enorm.
Die hout wat tradisioneel vir die vervaardiging van oede gebruik word, is byna onmoontlik om te bekom. Daarmee saam het invoerbeperkings hom gedwing om vindingryk te wees.
Deesdae herwin hy hout uit weggegooide voedselhulpkiste en omskep dié afvalhout in onderdele. Van die dele wat op hierdie manier uit erg beskadigde oede gered word, word daarna sorgvuldig hergebruik om ander instrumente te herstel.
“Daar is eenvoudig geen hout beskikbaar nie,” verduidelik Abu Shawish.
Die skerp styging in die koste van materiaal het die stryd verder bemoeilik. Volgens hom kos gom wat vroeër 20 sikkel (ongeveer R113) gekos het, nou sowat 60 sikkel, terwyl die prys van verdunner ook dramaties gestyg het. Noodsaaklike materiaal raak nou vir baie vakmanne onbekostigbaar.
Elektrisiteit, nóg ’n noodsaaklikheid vir moderne houtwerk, is grootliks nie in Gaza beskikbaar nie.
“Ons werk met die hand – met ’n saag en ’n vyl – en dit is baie moeilik,” sê hy.
Hierdie handewerk verleng die tyd wat dit neem om elke instrument te herstel aansienlik.
Tog weier Abu Shawish om moed op te gee. Terwyl sonlig deur die werkswinkel instroom, bring hy die laaste afronding aan ’n gerestoureerde oed aan voordat hy die snare saggies streel.
Die instrument antwoord met ’n klank wat die swaarkry buite vir ’n oomblik laat vervaag.
Abu Shawish hoop om eendag Palestynse musiekinstrumente van wêreldgehalte te vervaardig wat internasionaal kan meeding en Gaza se vakmanskap aan die wêreld kan bekendstel.
“Ons hoop die omstandighede verbeter en dat ons weer hout, gom en ander materiaal sal mag invoer,” het hy gesê.
“Ons wil soos die res van die wêreld kan werk, internasionaal meeding en produkte vervaardig waarop ons met trots kan sê: gemaak in Palestina, gemaak in Gaza,” was sy versugting terwyl hy besig was om die gerestoureerde oed fyn in te stem het.
