Die Springbokke sal die woorde van Suid-Afrika se volkslied op hul bors dra wanneer hulle die All Blacks in die vier toetswedstryde van die Greatest Rivalry-reeks aandurf.
Nike en SA Rugby het die nuwe trui Woensdag bekendgestel, met die ontwerp wat spesiaal vir die All Blacks se toer na Suid-Afrika geskep is.
Die Springbokke sal die trui vir die eerste keer dra wanneer hulle die All Blacks op 22 Augustus by 10bet Ellis Park pak. Die wedstryd skop ’n toetstreeks af tussen die Kiwi’s en SA wat laas 30 jaar gelede gebeur het.
Die opvallendste kenmerk van die trui is ’n subtiele grafika van die lirieke van Suid-Afrika se volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, wat in die vorm van die Suid-Afrikaanse vlag gerangskik is.
Die woorde van die volkslied verskyn in al vyf tale waarin dit gesing word: Xhosa, Zoeloe, Sotho, Afrikaans en Engels, en verteenwoordig die land se uiteenlopende stemme, geskiedenisse en gemeenskappe.
Die trui beskik ook oor Nike FIT ADV-tegnologie, met ’n liggewig prestasie-ontwerp wat aangepas is vir die vereistes van die moderne spel.
Die ontwerp weerspieël die Springbokke se ontwikkeling onder afrigter Rassie Erasmus, met die span wat toenemend bekend is vir sy aanpasbaarheid en kreatiwiteit op die veld.
“Dit is werklik ’n toer soos geen ander nie, en so ook hierdie trui,” het die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, gesê.
“Nike het hulself oortref met ’n ontwerp wat direk en eerlik spreek tot die motivering van die span en bestuur. Hulle speel vir die mense van Suid-Afrika en dra hul harte op hul moue; nou sal hulle ook die woorde van die volkslied op hul bors dra.”

Die trui sal slegs gedurende die vier toetswedstryde tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika in Augustus en September gedra word.
Dit sal vanaf Donderdag, 6 Augustus, te koop wees by Nike-winkels en Nike.com, Springbok-winkels in Sandton, Menlyn Park en Canal Walk, asook by uitgesoekte sporthandelaars.
