Legendariese krieketskeidsregter Marais Erasmus tree ná 26 jaar finaal uit

Marius Erasmus en Aiden Markram.
Marius Erasmus en Aiden Markram. Foto: Marco Longari / AFP

Ses-en-twintig jaar nadat Marais Erasmus as witjas op klubvlak begin aantree het, het hy Saterdag, 21 Maart, in sy heel laaste wedstryd in Paarl se Boland Park gestaan. Hierdie laaste taak as skeidsregter was vir ’n wedstryd tussen Goldrush Boland en DP World Lions.

Erasmus het twee jaar gelede sy uittrede as internasionale skeidsregter aangekondig nadat hy sedert 2006 op internasionale vlak in dié hoedanigheid aangestel is. Hy is in 2010 opgeneem in die elite-paneel van die wêreld se topskeidsregters en is tydens sy termyn deurentyd geloof vir sy kalmte en konsekwentheid op en van die veld.

LEES | Malmesbury-skeidsregter tree uit internasionale krieket

Hy was drie keer die ontvanger van die David Shepherd-trofee as beste krieketskeidsregter ter wêreld: in 2016, 2017 en 2021.

Erasmus en sy vrou Adele, beide oud-onderwysers van Laerskool Swartland op Malmesbury, het verlede jaar na Hermanus verhuis. Hulle het Saterdag se wedstryd saam met vertroude krieketvriende geniet, waar daar gereelde terugblikke was op Erasmus en sy gesin se hoogte- en laagtepunte van die afgelope 26 jaar.

“Nou is ek afgetree. Ek sal steeds as mentor optree wanneer jong skeidsregters daarvoor vra, maar Saterdag se wedstryd was my laaste een op die veld,” het Erasmus (62) gesê.

  • Artikel deur Sarie Nell. Kry al jou sportnuus op NovaNews.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie